2020-04-13
1 Tessalonisense 2:18 NLV
Paulus skryf: ‘Ons wóú dus na julle toe kom – ek, Paulus, meer as een keer – maar die Satan het ons gekeer.’ Let die woorde ‘meer as een keer’ op. Wanneer jy ‘n opdrag van God ontvang, sal Satan jou herhaaldelik aanval om jou te probeer keer om jou opdrag te vervul. Let drie dinge op: 1) Sy aanval wys dat hy glo dat jy in staat is om jou doelwit te bereik. Dis hoekom hy jou daar wil hou wanneer jy terneergedruk voel. Hy weet dat wanneer jy weer opstaan, jy sterker en effektiewer as ooit tevore sal wees. 2) Hy val altyd die geboorte van iets beduidends in jou lewe aan. Dit mag dalk die geboorte van jou bediening wees, soos die versoeking van Jesus in die woestyn. Dit mag dalk die geboorte van jou lotsbestemming wees, soos die geboorte van Moses, wat veroorsaak het dat al die eersgebore seuntjies in Egipte vermoor is in ‘n poging om die eksodus te keer. 3) Hy sal die mense naaste aan jou as ‘n poort tot jou hart gebruik. Jesus het gesê: ‘Selfs ‘n mens se eie familie sal jou vyande wees’ (Matteus 10:36 NLV). Wat moet jy dus doen? Bid vir hulle. Jou intrede is dikwels die enigste bedekking wat hulle het, bid dus daagliks die genade van God oor hulle harte uit. Moet ook nooit vergeet dat jou houding belangriker as die teenstand wat jy ervaar, is nie. Aanvalle gaan verby, maar as jou houding bitter of ontmoedig is, kan dit in bitterheid wortelskiet wat elke dag van jou toekoms kan vergiftig (sien Hebreërs 12:15). Jou invloed op God se koninkryk, bepaal die hewigheid van die aanval wat die Vyand teen jou loods. Moet dus nie moedeloos word nie – hou aan!
Sielskos: Lev 11:1-13:37; Matt 28:11-20; Ps 50:1-15; Spr 10:3
2020-04-07
Genesis 19:27 NLV
Abraham het ‘n spesiale plek gehad waar hy God ontmoet het. Daniël het ook so ‘n plek gehad toe sy lewe in gevaar was: ‘…Hy het daar ‘n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ‘n dag op sy knieë gegaan om vir sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen’ (Daniël 6:11 NLV). Jesus het ook ‘n spesiale plek gehad: ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Vestig ‘n ‘God plek’ in jou lewe. Wanneer probleme en druk dreig om jou te oorweldig, gaan na jou God plek toe. Wanneer jy leiding nodig het, gaan na jou God plek toe. Die gesangedigter, William Walford, het hierdie tydlose woorde geskryf: ‘Sweet hour of prayer! Sweet hour of prayer! That calls me from a world of care, and bids me at my Father’s throne make all my wants and wishes known. In seasons of distress and grief, my soul has often found relief; and oft escaped the tempter’s snare, by thy return, sweet hour of prayer!’ Jou God plek kan enige plek wees, maar dit moet net êrens wees. Nadat jy ‘n wyle daar vertoef het, sal ‘n tipe teenwoordigheid dit omring. Jy sal herinneringe van intieme tye met God daar skep. Dit sal jou heiligdom word, ‘n plek van toevlug en veiligheid. Dawid het geskryf: ‘Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige’ (Psalm 91:1 NLV). Noem dit jou God plek, jou geheime plek, jou heiligdom of wat ook al, maar vestig so ‘n plek in jou lewe.
Sielskos: Lev 5-7; Matt 27:27-32; Ps 25:8-15; Spr 9:18
2020-03-06
Markus 11:24 NLV
Charles Haddon Spurgeon, die ‘Prins van Predikers,’ het gesê: ‘Glo in God, totdat jy Hom vir die antwoord kan bedank. As die antwoord jou steeds ontwyk, moenie op so ‘n manier bid dat dit duidelik is dat jy nie glo dat jy die antwoord sal kry nie. So ‘n gebed sal jou hinder eerder as om jou te help; en wanneer jy klaar gebid het, sal jy agterkom dat jou geloof verswak, of selfs heeltemal verdwyn het. Die dringendheid wat jy gevoel het om hierdie tipe gebed te bid kom duidelik uit jouself. Dit is nie verkeerd om die kwessie weer teenoor die Here te opper indien Hy jou laat wag nie, maar doen dit op so ‘n manier dat dit geloof impliseer. Moenie jouself uit geloof bid nie. Jy kan dalk vir Hom sê dat jy wag en Hom steeds vir die antwoord vertrou en Hom prys. Daar is niks wat geloof so bevestig as om God te prys en te dank omdat jy seker is dat jy die antwoord sal ontvang nie. Gebede wat ons uit ons geloof uit bid, ontken God se belofte in sy Woord en sy fluistering in ons harte. Sulke gebede is die uitdrukking van die onrus in jou hart en hierdie onrus impliseer ongeloof. ‘Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan…’ (Hebreërs 4:3 NLV). Hierdie gebed wat ons onsself uit geloof uit bid, spruit dikwels uit ons gedagtes oor die moeilike probleem, eerder as gedagtes oor God se belofte. Abraham het ‘…baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns reeds heeltemal gedaan was… [maar] Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie…’ (Romeine 4:19-20 NLV). Mag ons oppas en bid dat ons nie in die versoeking kom om ons heeltemal uit geloof te bid nie.’
Sielskos: Gen 30:25-31:55; Matt 21:1-11; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35
2020-02-01
Lukas 22:40 NLV
Jy kan jou beste gesig opsit in ‘n poging om ander mense te oortuig dat jy beter doen, maar diep binne-in jou weet jy in watter areas jy die meeste in die versoeking kom en misluk. As jy regtig eerlik met jouself is, is die kans goed dat jy telling in jou gedagtes hou. Ander mense mag jou dalk ‘n A of ‘n B op jou rapport gee, maar jy druip jouself. Wanneer dit te gereeld gebeur, kom jy op die plek waar jy begin dink: ‘Wat is die punt om God om vergifnis te vra? Ek gaan net dieselfde sondes oor en oor pleeg en weer na Hom toe moet teruggaan.’ Daar is egter ‘n oplossing. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Hou aan bid dat julle nie in die versoeking beland nie’ (sien Matteus 26:41 NLV). Met ander woorde, bid voor die versoeking kom en jy sal krag kry en bewapen word om dit te hanteer. ‘Maar ek het al daaroor gebid!’ antwoord jy. Bid dan meer! Voor Jesus die storm op die see van Galilea gekalmeer het, het Hy die hele nag in gebed deurgebring. Skakel jou televisie, jou rekenaar, jou selfoon en enige ander afleidings af en spandeer tyd met God. Jy kan ‘n punt in gebed bereik waar jy ‘weet’ dat God jou die krag wat jy nodig het gegee het en dat oorwinning verseker is. Paulus het gesê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). Wat het jy nodig sodat jy nie sal misluk nie? God se genade om jou te vergewe – en sy hulp om versoeking teen te staan. Bid dus voor die versoeking kom en God sal jou ‘n oorwinnaar maak.
Sielskos: Jes 30-33; Matt 11:20-30; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26
2019-12-09
Prediker 2:24 DB
Daar sal tye in die lewe wees waar dit voel asof daar te veel is om te doen en nie genoeg tyd om dit te doen nie. As jy egter konstant oorlaai is, sal dit in jou houding, jou verhoudings, jou werkprestasie en selfs jou pad met God te voorskyn kom. As dit is waar jy vandag is, moet jy die volgende doen: 1) Bid. ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal die gelowiges nie teleurstel nie’ (Psalm 55:23 NLV). Voor jy uitmekaar val, vra God vir die wysheid om dit wat jy doen te evalueer en wees dan eerlik met jouself oor hoekom jy jouself in hierdie penarie bevind. Die skrywer van Spreuke sê: ‘Moenie jou afsloof om ryk te word nie. Wees verstandig genoeg om binne perke te bly. As jy nog na jou rykdom kyk, is dit eensklaps weg soos ‘n voël wat wegvlieg in die lug’ (Spreuke 23:4-5 NLV). Vra God om vir jou te wys waar jy dalk jou vrede, gesondheid en verhoudings op die altaar van materialisme opoffer. 2) Delegeer. Moses, een van die grootste leiers in die Ou Testament, was besig om onder die gewig van al sy verantwoordelikhede uitmekaar te val. Hy het so depressief geword dat hy God gevra het om sy lewe te neem! Daar was bekwame mense rondom hom wat gewillig was om te help, maar hy wou dit nie toelaat nie. Klink dit bekend? Solank as wat jy daarop aandring om alles te beheer en alles self te doen, sal jou produktiwiteit stilstaan en jou vrede verdamp. As jy dus vandag oorlaai is, begin ‘n paar veranderinge maak.
Sielskos: Neh 5-7; Joh 18:12-24; Ps 150; Spr 29:22-27