Sukkel jy om te slaap?
2020-05-05Spreuke 3:24 NLV
Slapeloosheid is ‘n aaklige ding. Op enige gegewe tyd affekteer dit 30 tot 50 persent van die bevolking. Jy vrees slaaptyd, rol die hele nag rond en loop doodmoeg die volgende dag rond. Wanneer dit vir weke en selfs maande aanhou, kan dit jou depressief maak en jou vreugde van jou steel. Is dit wat tans met jou gebeur? Laat God jou dan help. Sy Woord sê dat Hy vir die mense wat Hy liefhet, alles gee ‘…wat hulle nodig het, ook terwyl hulle slaap’ (Psalm 127:2 ABA). Sy belofte is: ‘Jy sal kan gaan slaap sonder om bang te wees. Jy sal rustig kan bly slaap.’ Maak die volgende vandag jou gebed: ‘Vader, skyn vandag u lig op die oorsaak van my slapeloosheid. Watter angstighede my ook al weerhou van ‘n diep, genesende slaap, gee ek aan U oor soos U my beveel het, omdat U vir my omgee (sien 1 Petrus 5:7). Kalmeer my rustelose gedagtes. Help my om stil te wees en te weet dat U my God is (sien Psalm 46:11). Ek onderwerp my aan u bevel om my nie oor enigiets te bekommer nie, maar om oor alles te bid. Ek bring my behoeftes na U toe en dank U vir alles wat U alreeds gedoen het. U Woord verseker my dat indien ek dit doen, ek u vrede sal ervaar, wat wonderliker is as wat ‘n mens kan indink en dat dit my hart en gedagtes sal beskerm (sien Filippense 4:6-7). Deur geloof sal ek vanaand sonder vrees of angs my kop neerlê en mooi drome droom. Ja, ek sal in vrede gaan lê en slaap omdat U, Here, my veilig sal hou (sien Psalm 4:9). In Jesus se Naam bid ek dit, Amen.’
Sielskos: Num 8-10; Mark 6:30-44; Ps 37:16-24; Spr 11:4