Stop en vra vir aanwysings

2024-04-13
Spreuke 14:12 NLV

Jy kan opreg in jou bedoelings wees – maar opreg verkeerd wees. Die Bybel sê die reën val ‘…op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen’ (Matteus 5:45 NLV). Die wet van oorsaak en gevolg geld vir almal en al jou goeie bedoelings sal jou nie by die regte bestemming uitbring as jy op die verkeerde pad is nie.

Dink daaroor as volg: Miskien oorweeg jy dit om in ‘n spesifieke maatskappy te belê. Jy doen die navorsing, praat met die kundiges en dinge lyk goed. Jy gaan dus op die aanname dat dit ‘n deurdagte besluit is, voort. Dan gebeur die onverwagte. ‘n Resessie vind plaas en die mark stort ineen. Dis nie jou fout nie; jy was opreg in jou besluit om te belê, maar dit verander egter nie die eindresultaat nie. Jy verloor steeds. Jy kan dit nie bekostig om jou vertroue in dit wat vir mense reg lyk te plaas nie (sien Spreuke 16:25); jy moet die dinge wat reg in God se oë is, najaag.

Jesus het gesê: ‘…Ek is die pad en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie’ (Johannes 14:6 NLV). Dit beteken dat tensy jy jou lewe aan Christus toegewy het, jy reeds op die verkeerde pad is. Draai om en vra Hom om jou sonde te vergewe en om jou op die pad na die ewige lewe te plaas. As jy ‘n gelowige is wat leiding soek, bid, lees jou Bybel en luister na dit wat God vir jou wil sê. Vra God om sy Woord vir jou te interpreteer, jou hart te laat vlamvat en jou in die regte rigting te wys. Hy sal dit doen!

Sielskos: Jer 49-50; Mark 2:18-22; Ps 50:1-15; Spr 10:8-10