Stoei met Satan – van naderby en persoonlik!
2024-07-03Efesiërs 6:12 NLV
Voordat Joab met die Arameërs in geveg getree het, het hy vir sy broer gesê: ‘…As die Arameërs vir my te sterk word, kom dan oor en help my. En as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek jou kom help’ (1 Kronieke 19:12 NLV). Indien een oorweldig sou word, kon die ander een intree en help. Geestelike oorlogvoering werk egter anders. Ons stoei nie ‘…teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers…’
Toe Dawid voor Goliat te staan gekom het, was die reus so seker van homself dat hy aan die hele Israel verklaar het: ‘As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees!’ (1 Samuel 17:9 NLV). Dink aan die langtermyn implikasies hiervan. As Goliat gewen het, sou God se mense lewenslank hul vyand moes dien! Daar was ongelooflik baie vir Israel op die spel – en ook vir jou.
Satan is daarop uit om jou te oorwin en as jy volgens die reëls van die vlees stoei, gaan jy verloor. Net soos professionele stoeiers reëls het waarby hulle moet hou, so is daar geestelike reëls wat ontwerp is om vir jou te werk. Paulus sê: ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Die enigste hoop wat jy het om Satan te oorwin, word in gebed, Christelike gemeenskap, God se Woord, die naam van Jesus en die bloed van Jesus, gevind. Hierdie vyf dinge is bo-aan die lys van die kragtige wapens wat aan jou gegee is om die Vyand te oorwin. Gebruik hulle dus vandag!
Sielskos: 1 Sam 11-13; Luk 4:1-13; Ps 95; Spr 16:31-33