Staan vas!
2019-04-08Hebreërs 11:27 NLV
Die lewe van Moses kan in drie woorde opgesom word: ‘Hy het volgehou.’ Hy het ten spyte van die minagting van Farao, die magtigste monarg op aarde, volgehou. Hy het ten spyte van die hardkoppigheid van die Israeliete, wat gekla, geblameer en gerebelleer het, volgehou. Hy het ten spyte van die kritiek van Miriam en Aäron, sy eie familie, volgehou. Hy het ten spyte van die negatiewe verslag van die tien spioene wat van die Beloofde Land af teruggekom het (sien Numeri 13:33), volgehou. Hoe het Moses dit gedoen? ‘Omdat hy geglo het, het Moses… volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou.’ Hy het sy oë op God – nie op mense nie – gevestig gehou. Paulus gee ons die geheim om al die gevegte in ons lewens te wen: ‘Dan… sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:13 NLV). Staan vas wanneer dit lyk of dit met jou vyande goed gaan. Staan vas wanneer dit lyk of die bose wen. Staan vas wanneer groot mense kleinlik optree en wanneer klein mensies outoriteit wat hulle nie verdien nie, vereis. Staan vas wanneer niemand sal weet dat jy verkeerd opgetree het nie. Geestelik gesproke, waar is jy vandag? Voel jy bewerig in areas waarin jy eens op ‘n tyd sterk gestaan het? Gee jy toe aan versoeking, vrees, buierigheid of die opinies van ander omdat jy moeg vir hulle afkeuring is? Staan vas! Moses het sy oë op die Here gevestig. Hy het hom konstant daaraan herinner dat sy enigste doel in die lewe was om die Here te behaag, te gehoorsaam, te verheerlik en sy goedkeuring te kry. Die woord vir jou vandag is dus: Staan vas!
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Luk 21:29-38; Ps 50:16-23; Spr 10:4-7