Sommige mense kan nie gehelp word nie (1)

2019-03-08
Jeremia 32:33 NLV

Daar is mense wat jy nie kan help nie – ten minste nie nou dadelik nie. Let op wat God oor die Israeliete gesê het: ‘…Dit het nie eers gehelp dat Ek hulle aanhou en aanhou leer om tussen reg en verkeerd te onderskei nie. Hulle het hulle nie aan My gesteur deur op onderwysing ag te slaan nie.’ Kom ons kyk na hierdie mense wat gewoonlik nie gehelp kan word nie: 1) Mense wat aanhou verskonings maak. Verskonings is ‘n kruk vir ‘n gebrek aan toewyding en ‘n rookskerm vir selfregverdiging. Jy kan nie iemand help totdat hulle gewillig is om verantwoordelikheid vir hulle lewe te aanvaar en die oplossings van die Skrif toe te pas nie. As hulle nie na God wil luister nie, watse verskil gaan jou opinie dan maak? 2) Mense wat in die verkeerde sirkels beweeg. Die Bybel sê: ‘…slegte geselskap bederf goeie gewoontes’ (1 Korintiërs 15:33 NLV). Daar is mense wat eenvoudig nie in jou lewe hoort nie en jy kan nie vorentoe beweeg totdat jy die skakel breek nie. Die geselskap wat jy hou, beïnvloed jou optrede, karakter en toekoms. 3) Mense wat God vir hulle probleme blameer. Wanneer moeilikheid opdaag, vra hulle: ‘Hoekom laat God toe dat dit met my gebeur?’ Die feit is dat jy nooit God as jou oplossing sal sien, totdat jy ophou om Hom as jou probleem te sien nie. God het dit duidelik vir sy mense uitgestippel: ‘Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek… Mag jy tog die lewe kies…’ (Deuteronomium 30:19 NLV). As jy moedeloosheid wil verhinder, moet jy mense liefhê en vir hulle bid, maar jou tyd met diegene wat bereid is om gehelp te word, spandeer.

Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:1-10; Ps 27; Spr 7:10-20