Oortuiging en geloofwaardigheid (2)
2018-07-26Spreuke 11:3 NLV
Die tweede kwaliteit wat jy moet hê wanneer jy met mense omgaan is: Geloofwaardigheid. Wanneer mense jou vertrou, luister hulle na jou. In die vroeë stadiums van die verhouding gee hulle jou die voordeel van die twyfel, mits jou getuigskrifte goed is. Om hulle vertroue egter te behou, moet jy geloofwaardigheid demonstreer (betroubaarheid, integriteit en opregtheid). Daar word gesê dat ‘n middelmatige onderwyser vertel, ‘n goeie onderwyser verduidelik, maar dat ‘n uitstekende onderwyser demonstreer. Op die ou einde moet ons almal daarna strewe om die boodskap te wees. In die eerste ses maande van ‘n verhouding, fokus ons op die persoon se kommunikasievermoë om indrukke oor hom of haar te kry. Ons sal byvoorbeeld by ‘n nuwe baas se idees inkoop as hy goed kan praat en ‘n uitstekende visie voorhou. Wanneer ons by ‘n buurman of kollega aanklank vind, voel ons dat ons dalk ‘n nuwe vriend kan hê. Wanneer ons die persoon ontmoet waarmee ons op die ou einde trou, dink ons dat alles altyd sal wonderlik wees. Vir die meeste mense is die wittebrood wonderlik. Maar na die wittebrood kom die huwelik! Soms is dit ook wonderlik en soms is dit nie. Wat maak die verskil? Geloofwaardigheid! Na ses maande raak geloofwaardigheid belangriker as kommunikasie. Wanneer ‘n persoon geloofwaardig is, word dit beter soos die tyd aanstap. Wanneer ‘n persoon egter geloofwaardigheid kort, word dit slegter hoe langer jy tyd saam met hom spandeer. Geloofwaardigheid is soos geld: Daarmee is jy solvent, daarsonder is jy bankrot. Die waarheid is: Met die verloop van tyd weeg die manier wat jy leef veel meer as die woorde wat jy gebruik.
Sielskos: 1 Tim 1-3; Luk 9:28-36; Ps 1; Spr 19:9-11