Oortuiging en geloofwaardigheid (1)
2018-07-25Rigters 7:17 NLV
Op die vooraand van sy skouspelagtige oorwinning oor die Midianiete, het Gideon vir sy driehonderd manskappe gesê, ‘…Kyk mooi wat ek doen. Wanneer ek by die kamp kom, moet julle presies maak soos ek.’ Wat sou gebeur as jy dit vir die mense wat jou ken sou sê? Sou jy moes byvoeg, ‘Volg my in besigheid, maar nie in my familielewe nie’? Of, ‘Volg my professionele raad, maar nie my persoonlike leefstyl nie’? Om respek te verdien en waardig te wees om gevolg te word, het jy twee kwaliteite nodig wat saak maak. Die eerste is oortuiging. Oortuiging is ‘n vaste beginsel waarvolgens jy leef en weier om van af te sien. ‘n Man of vrou van oortuiging pas nie sy of haar beginsels en aksies by eksterne invloede aan nie. Een vroeë oggend, is die Skotse filosoof en godsdienstelike skeptikus, David Hume, gesien waar hy jaag om die evangelis George Whitefield se diens by te woon. Toe hy gevra word of hy waarlik glo wat die groot evangelis gepreek het, het Hume geantwoord, ‘Definitief nie! Maar hy glo dit en ek wil ‘n man hoor praat wat waarlik glo in dit wat hy sê!’ Die skrywer Larry Phillips het gesê, ‘Daar is ‘n opmerkbare verskil tussen staal en tin – veral wanneer dit getref word. Opregte, hartstogtelike oortuigings kom eenvoudig oor as ‘woorde van staal.’ Daar is ‘n gedetermineerde voorneme daaraan. Ons moet besef dat ons nie oortuigings kan vervals nie! Mense sal altyd die verskil tussen woorde van staal en die geluid van tin kan onderskei – maak nie saak hoe hard die tin getref word nie!’ Mense ken die verskil tussen jou kernwaardes en jou intellektuele konsepte. As jy nie ‘n diepe oortuiging het van dit wat jy sê nie, hoekom moet hulle dit hê?
Sielskos: Hab 1-3; Luk 9:18-27; Ps 65; Spr 19:5-8