Ons nasie kan gered word
2021-05-112 Kronieke 7:14 NLV
Winston Churchill het glo gesê: ‘Diegene wat nie uit die geskiedenis leer nie, is gedoem om dit te herhaal.’ Kyk na ons hedendaagse samelewing; sien ons die toestande wat die val van baie groot samelewings vooraf gegaan het, is in plek.
Jy vra: ‘Kan ons nasie gered word?’ Ja! God het vir Abraham gesê dat indien hy so min as tien geregtige mense in die land kon vind, sou Hy Sodom en Gomorra van die oordeel gespaar het. ‘n Geregtige minderheid kan ons land nog red. Hoe? Deur gebed! God het gesê: ‘Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle vergewe en hulle land gesond maak.’
Daar is vier belangrike voorwaardes wat in hierdie Skrifgedeelte genoem word: a) ‘Wanneer die volk wat my Naam dra.’ Die toekoms van ons nasie rus nie in die hande van bankiere, nuuslesers of politici nie, maar vierkantig in die hande van God se verloste mense. b) ‘Hulle verootmoedig en bid, en My weer soek.’ God, wat niemand se goedkeuring of magtiging nodig het om op te tree nie, belowe om te beweeg wanneer sy mense na Hom toe draai en sy aangesig soek. c) ‘Hulle afkeer van hulle bose lewens.’ In plaas daarvan om te kla wat met die samelewing verkeerd is, beveel God sy mense om hulle eie harte te ondersoek en reg te maak wat verkeerd is. Wanneer hulle dit doen, belowe Hy: d) ‘Sal Ek in die hemel hoor en hulle vergewe en hulle land gesond maak.’
Dit is ons verantwoordelikheid, nie hulle s’n nie! Dis nie te laat nie. Ons nasie kan gered word as ons bid en God met ons hele hart soek.
Sielskos: Num 34-36; Mark 8:14-26; Ps 57; Spr 11:14