Om deur dit wat jy gaan, te kom

2019-04-04
1 Korintiërs 10:13 NLV

Sommige mense bly hulle hele lewe lank in hopelose situasies sonder om ooit die besluit te neem om God se krag te soek om daar deur te kom. Paulus sê: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV). Wanneer jy jou gedagtes met God se Woord vernuwe, sal Hy vir jou sy wil wys en jou versterk om – vir eens en vir altyd – deur dit wat jy jare al deurmaak, te kom. Die skrywer John Mason sê: ‘Moenie jou huidige, tydelike situasie as jou toekomstige permanente situasie aanvaar nie. Besluit om met die lewe aan te beweeg en jou roeping te vervul. Paulus sê: ‘… ons leef deur te glo en nie deur te sien nie’ (2 Korintiërs 5:7 NLV). Ons word nie deur die ooglopende aangespoor nie, maar deur die werklike. As jy al vir jare sê: ‘Ek gaan deur hierdie situasie kom,’ staan op en verklaar: ‘Ek het genoeg gehad. Dis tyd om deur hierdie gemors te kom!’ Die Vyand wil hê dat jy glo dat jy nooit oorwinning sal behaal of jou huidige omstandighede sal oorkom nie. God se Woord sê egter: ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg…’ (1 Korintiërs 10:13 NLV). Neem hierdie teksvers en staan daarop. Hy sal vir ‘n uitweg sorg.’ Jou omstandighede mag dalk nie dadelik verander nie, maar wat God betref, is jy reeds aan die ander kant daarvan.

Sielskos: Lev 15-17; Luk 21:8-11; Ps 25:8-15; Spr 10:1