Oefen jou gedagtes

2022-08-19
1 Timoteus 4:7 NLV

Die digter Horace het geskryf: ‘Regeer jou gedagtes, of dit sal jou regeer.’ Wanneer ‘n verkeerde gedagte by jou opkom, het jy twee keuses: oorweeg dit of verdryf dit! As jy dit oorweeg, sal die gedagte sy intrek neem en dis dan wanneer jou probleme in alle erns begin. In ‘n demokrasie het jy die reg om te dink, te sê en te doen wat jy wil, solank as wat dit nie iemand anders seermaak nie.

As dit wat jy dink, sê en doen jouself egter seermaak, sê jy: ‘Dis my reg!’ Ja, maar as jy baie suiker, sout en vette eet, het jy nie die reg om te kla wanneer dit jou gesondheid affekteer nie. As jy dinge op televisie en die internet kyk wat jou gewete en God se Woord skend, het jy geen reg om te kla dat jy geestelik sukkel nie. Dis ‘n goeie ding om ‘n beter lewe vir jou gesin te wil hê, maar as jy as gevolg van jou onbeheerste besteding in skuld verdrink, moet jy nie van God verwag om jou daaruit te red nie!

Hoekom sê Paulus ons moet: ‘…oefen tot geestelike fiksheid’? Omdat niemand anders dit vir jou kan doen nie! Jy sê: ‘Ek gaan more begin.’ Hoe lank sê jy dit al? Wat is die kans dat jy dit weer more gaan sê? Vandag is die more waaroor jy gister gepraat het. Neem die besluit om beheer van jou lewe te neem en vra God om jou te help om dit te doen. Hy sal. Paulus skryf: “Julle sê: ‘Alles is ons geoorloof.’ Ja, maar nie alles is tot voordeel nie. Alles is inderdaad geoorloof, maar nie alles is opbouend vir almal nie” (1 Korintiërs 10:23 NLV).

Sielskos: Rut 1-4; Mark 6:14-29; Ps 119:81-88; Spr 18:1-5