‘n Houdingsaanpassing (1)
2020-05-12Filippense 4:8 ABA
Ons almal moet van tyd tot tyd ons houding aanpas. Dis noodsaaklik om die regte houding te onderhou wanneer dinge moeilik raak. Maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie, besluit om dit met die regte houding aan te pak. Besluit inderwaarheid voor die tyd om ‘n positiewe gedagtegang in elke negatiewe situasie te handhaaf. As jy dit bewustelik besluit en daaroor in goeie tye mediteer, sal jy gereed wees wanneer moeilike tye hulle opwagting maak. Paulus skryf: ‘…Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ‘n mens trots kan wees… Julle moet dieselfde doen, dan sal God wat vrede gee, by julle wees’ (verse 8-9 ABA). Sommige van die geskiedenis se grootste skrywers en komponiste het meesterstukke in die moeilikste tye van hulle lewens geskep. Beethoven se bekendste simfonieë is geskryf toe hy amper heeltemal doof was en groot hartseer ervaar het. Een van die grootste foute wat jy kan maak, is om te dink: ‘Ek sal nooit soos daardie mense kan wees nie.’ As jy so dink, is jy reeds oorwonne, nog voor jy begin het. Dis makliker om ‘n goeie houding te onderhou, as om ‘n goeie houding terug te kry. Sodra jy dus agterkom dat jy begin negatief raak, moet jy onmiddellik jou houding aanpas. Die Bybel sê: ‘…Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug’ (Jakobus 4:7 NLV). Die oomblik wat die Vyand negatiewe gedagtes in jou kop plaas, moet jy dit onmiddellik stop. Dissiplineer jouself om met ‘n positiewe houding in alle omstandighede sterk te staan. Wanneer jy dit doen, sal ‘God wat vrede gee, by julle wees.’
Sielskos: Num 25-26; Mark 8:14-26; Ps 57; Spr 11:14