Monitor jou gedagtes (2)

2022-06-24
1 Korintiërs 2:16 NLV

Daar is ‘n natuurlike ingesteldheid en ‘n geestelike ingesteldheid. Om in oorwinning te lewe, moet jy ‘n geestelike ingesteldheid ontwikkel. ‘Mense wat nog in materiële terme dink, kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie… Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet uit ‘n geestelike perspektief verstaan word… ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:14, 16 NLV).

Soos jy jou lewe in ooreenstemming met God se Woord programmeer en jouself bewustelik daaraan onderwerp om elke dag sy wil te doen, sal Hy sy gedagtes in jou gedagtes plant. Wat ‘n voordeel! Byvoorbeeld: Iemand kritiseer jou en jou gevoelens word seergemaak. In daardie oomblik praat die Here met jou en sê: ‘Ja, jou gevoelens is seergemaak, maar ‘n deel daarvan is net gewonde ydelheid. Ek is lief vir jou ten spyte van al jou gemors. Jou posisie by My is nie in gevaar nie. Die persoon wat jou gekritiseer het, sien dalk ‘n fout raak. Maar dit is beter om nie te hoef voor te gee dat jy perfek is nie. Hier is ‘n kans om te groei. Gebruik dit!’

Selfs al is daar elemente van pyn in hierdie geestelike soort gedagtes, verlam dit jou nie, maar gee jou eerder energie. Dit is waar, dit gee jou grond om op te staan en jy besef dat indien jy jou gedagtes op hulle gefokus kan hou, sal die regte gevoelens en aksies meer geneig wees om daaruit te vloei. Nou begin jy die volgende belofte uitleef: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).

In plaas daarvan om op jou kritici te fokus, fokus eerder op God, op jou geestelike groei en wat jy uit die ervaring kan leer.

Sielskos: Hosea 1-5; Matt 21:1-17; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8