Moet nooit jaloers wees nie

2022-03-04
Spreuke 14:30 NLV

Vind jy dit moeilik om ander mense met hulle prestasies te komplimenteer? Wanneer iemand se naam in die geselskap opduik, voel jy goed omdat iets slegs met hulle gebeur het? Wanneer jy iets moois oor ‘n ander persoon hoor, voel jy genoop om te sê: ‘Ja, maar….’ en wys dan hulle negatiewe eienskappe of mislukkings uit? Hou jy aan om jouself met ander mense te vergelyk? Is jy behep met wat hulle doen, koop, dra en met wie hulle omgaan? Vertrou jy die mense vir wie jy lief is, of hou jy altyd dit waarmee hulle besig is dop? Die Bybel sê: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid. Jaloesie vreet ‘n mens op’ (vers 30 NLV).

As jy geestelik, emosioneel en fisies gesond wil wees, moet jy nie plek vir jaloesie gee nie, anders sal dit jou opvreet. Die ellendigste mense in die lewe is diegene wat met jaloesie gevul is. Dit vreet aan hulle en steel hulle vreugde. Al wat hulle aan dink is die dinge wat ander mense het wat hulle ook wil hê, wat tot wrokkigheid en twis lei.

Hoe oorwin jy jaloesie? 1) Erken dat jy ‘n probleem het. 2) Bekeer jou en vra God vir sy hulp. 3) Bid vir die persoon wat die teiken van jou jaloesie is. Begin om ander mense se suksesse saam met hulle te vier en maak ‘n punt daarvan om hulle te komplimenteer.

Onthou, niemand is so goed daarin om jy te wees, as jy nie. Jy het dus geen kompetisie nie. Wanneer jy weet wie jy voor God is, is dit nie nodig dat jy op enigiemand anders jaloers is nie.

Sielskos: Eks 19-21; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29