Moenie ‘n beheervraat wees nie!
2024-03-08Romeine 12:10 NLV
Raak jy ontsteld wanneer jy nie ander mense kan beheer nie? Of raak jy buierig en geïrriteerd wanneer mense nie doen wat jy wil hê nie? Hoe reageer jy wanneer jou foute uitgewys word? Probeer jy mense forseer om aan jou eise te voldoen? Oordryf jy jou pyn, siekte of behoeftes sodat jy aandag of simpatie by ander kan kry? Kritiseer jy die opinies en keuses van ander en dink jy jy is beter as hulle? Raak jy kwaad en beledigend wanneer iemand van jou verskil of jou gesag uitdaag? Is jy onwillig om ander mense te komplimenteer, maar gou om iets wat jy dink verkeerd is met hulle te probeer regmaak? Probeer jy om ‘n wig tussen jou geliefdes en enigiemand wat naby aan hulle kom, te dryf? Gee jy ‘bevele’ aan diegene met wie jy in aanraking kom, eerder as om mooi ‘asseblief’ en ‘dankie’ te sê?
As jou antwoord op hierdie vrae ja is, is die woord vir jou vandag – moenie ‘n beheervraat wees nie! Die Bybel sê: ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer’ (vers 10 NLV). Dit beteken dat jy moet stop en oorweeg hoe jou gedrag ander mense affekteer. Jy sê: ‘Ek het maar net ‘n sterk persoonlikheid.’ Jammer, dis nie ‘n goeie verskoning nie! ‘Die Here se diensknegte… moet goedgesind teenoor almal wees…’ (2 Timoteus 2:24 NLV). As jy dus ‘n beheervraat is, begin jou gedrag verander!
As jy jouself egter toelaat om beheer te word omdat jy bang vir woede en verwerping is, is dit tyd om jou voet neer te sit. Wanneer die beheervraat besef dat jy dit nie langer gaan toelaat nie, sal hulle ophou om dit te doen.
Sielskos: Op 15-18; Matt 21:33-46; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35