Leer by die jong, ryk leier (1)
2018-08-18Lukas 18:22 NLV
Lukas skryf: ‘Iemand uit die geledere van die geestelike leiers het aan Jesus gevra: ‘Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?’ Jesus het gereageer: ‘…Jy ken mos die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis aflê nie, en eer jou vader en jou moeder.’ Hy het geantwoord: ‘Al hierdie dinge het ek nagekom van kleins af.’ Toe Jesus dit hoor, het Hy vir die man gesê: ‘Tog is daar een ding wat by jou kortkom: Verkoop alles wat jy besit en gaan deel die opbrengs aan die armes uit, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan hierheen en word my dissipel.’ Toe hy dit hoor, het die man baie afgehaal gevoel, want hy was skatryk’ (verse 18-23 NLV). Hierdie man het ontdek dat ‘n klomp godsdienstige reëls nie die leegheid in jou siel kan vul nie; net ‘n verhouding met Christus kan dit doen. Tweedens het hy ontdek dat hy nie net ‘n rykdom besit het nie, maar dat sy rykdom hom besit het en hom daarvan weerhou het om Christus te volg. Hy het soveel potensiaal gehad. Hy kon sy hulpbronne, sy netwerk en sy energie vir God se koninkryk gebruik het, maar hy wou dit alles vir homself gehou het. Hierdie jong, ryk leier sou uiteindelik ‘n ou, ryk leier word. Tot die dag van sy dood sou hy Jesus se woorde onthou het: ‘…Kom… hierheen en word my dissipel…’ Jesus maak dieselfde aanbod aan jou. As jy nee sê, sal jy dit aan die einde van jou lewe berou. As jy ja sê, sal jy met vreugde en vlakke van seën wat jy nooit gedink het moontlik is nie, beloon word.
Sielskos: 2 Kro 1-4; Luk 14:15-24; Ps 119:73-80; Spr 21:14-16