Lag – God se voorskrif vir stress!
2020-11-07Spreuke 17:22 NLV
Die skrywer Barbara Johnson het gesê: ‘Om te lag is soos om ‘n baba se doek om te ruil. Dit los nie die probleem permanent op nie, maar dit maak dinge vir ‘n rukkie meer aanvaarbaar.’
Een dag was die komediant en skrywer, David Brenner, besig om boeke te teken. ‘n Jong man het vir hom sy nuutgekoopte boek gegee om te teken en gesê: ‘Ek wil jou bedank dat jy my lewe gered het.’ Sonder om mooi te dink het Brenner geskerts: ‘My plesier.’ Die jong man het egter aangegedring: ‘Nee, ek bedoel dit regtig!’ Brenner het opgekyk. Die jong man het voortgegaan deur te sê: ‘My pa is oorlede. Hy was my beste vriend. Ek was lief vir hom en kon vir weke nie ophou huil nie, dus het ek besluit om my eie lewe te neem. Die aand wat ek beplan het om dit te doen, was die televisie aan en jy was die gasheer op The Tonight Show. Ek het na jou openingsmonoloog geluister en die volgende oomblik was ek besig om histeries te lag. Ek het toe besef dat as ek in staat was om te lag, was ek in staat om te lewe. Dus wil ek jou bedank dat jy my lewe gered het.’ Nederig en dankbaar het Brenner sy hand geskud en gesê: ‘Nee, dankie vir jou.’
Die Bybel sê: “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne…” Kundiges bevestig dat lag jou immuunstelsel opbou, jou geheue en leervermoë verbeter, spanning verlig, jou polsslag en bloeddruk verlaag, endorfiene vrystel wat pyn verminder, angs en stres verlaag, mense gerusstel en eenheid meebring. Hierdie effekte hou vir agt tot twaalf ure aan. Dit bevorder emosionele genesing en die beste van alles – dis pret. Dis hoekom lag God se voorskrif vir stres is!
Sielskos: 1 Kro 3-5; Joh 9:1-12; Ps 15; Spr 25:21-22