Laat hulle kritiek jou versterk
2021-12-02Rigters 7:11 NLV
Word jy gekritiseer? Het dit jou selfvertroue beïnvloed? God het vir Gideon gesê: ‘As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan. Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry’ (verse 10-11 NLV).
Hoekom het God vir Gideon en sy helper na die vyand se kamp toe gestuur? Om te hoor wat hulle sê en om Gideon te bemoedig. Toe hulle daar aankom, was een van die soldate besig om sy vriend van sy droom te vertel: ‘…’daar kom ‘n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ‘n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.’ Sy maat het geantwoord: ‘Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon… nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.’ Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die Here gedank…’ (verse 13-15 NLV).
Soms wanneer jy aanmoediging nodig het, is dit goed om aandag te gee aan wat jou kritici sê. Jy is besig om ‘n verskil te maak – andersins sou hulle jou nie eers opgemerk het nie. God het vir elke geveg ‘n strategie. Moet dus nie net vir oorwinning bid nie; vra God om vir jou die wen-strategie te wys. Die Bybel sê: ‘As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs…’ (Psalm 127:1 NLV). As God dus, soos met Gideon, met jou praat en jy is te bang om daarvolgens aksie te neem, staan op hierdie belofte: ‘Ek is dan saam met jou!.. Jy sal al die [vyande] verslaan asof jy net teen een man veg’ (Rigters 6:16 NLV).
Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 28:17-20