Laat ander mense God in jou sien!
2018-04-13Sagaria 8:23 NLV
Die profeet Sagaria skryf, “Mense van baie nasies, selfs groot nasies, sal Jerusalem toe kom om die Here die Almagtige te soek… en sê: ‘Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle'” (verse 22-23 NLV). Wanneer mense sien dat God in jou lewe aan die werk is, sal hulle aangetrokke tot jou wees. Dit het met ‘n sjef genaamd Nicholas Herman gebeur. Hy was nie tevrede met sy lewe nie en het aanhoudend gewonder of hy waarlik gered is. Een dag was hy besig om ‘n boom te sit en bestudeer, toe die waarheid in Psalm 1:3 hom tref: dat die geheim om geestelik te groei daarin lê om in God gegrond en gewortel te wees. Dus het hy besluit om sy lewe ‘n eksperiment te maak, wat hy ‘die gebruiklike, stille, geheime gesprekke van die siel met God’ genoem het. Vandag is hy beter bekend as Broer Lawrence. Alhoewel hy sy lewe in onbekendheid in ‘n kloosterkombuis deurgebring het, is sy verhouding met God iets waarna mense regoor die wêreld strewe. Sy vriende het gesê dat hy God orals gevind het, of hy nou skoene reggemaak het of saam met die gemeenskap gebid het. Na sy dood het hulle ‘n boek van sy briewe en gesprekke saamgestel, genaamd The Practice of the Presence of God. Dis een van die boeke wat die afgelope vier eeue die wydste gelees is. Jesus het gesê, ‘En wanneer Ek van die aarde af aan die kruis verhoog word, sal Ek almal na My toe trek’ (Johannes 12:32 NLV). Hoe meer jy die teenwoordigheid van God in jou lewe kultiveer, hoe meer sal ander mense na Hom aangetrek word. Laat dus ander mense toe om God in jou te sien!
Sielskos: Jer 49-50; Mark 2:18-22; Ps 50:1-15; Spr 10:8-10