Kweek ‘n bewustheid van God se teenwoordigheid

2021-05-14
Genesis 28:16 NLV

Jakob het sy lewe in die vinnige baan geleef, besigheidstransaksies beklink en baie geld gemaak, anders as Dawid wat rustig sy skape in die veld opgepas het. Let egter op wat elkeen van hulle oor God gesê het. “Toe Jakob wakker word, sê hy: ‘Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie geweet nie!'” Aan die ander kant, het Dawid gesê: ‘Ek prys die Here wat my insig gee, ook in die nag is ek daarvan bewus. Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal Ek nie struikel nie. Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof, en rus in veiligheid’ (Psalm 16:7-9 NLV).

Sien jy die verskil? Jakob was so besig dat hy nie God se stem herken het of ‘n bewustheid van sy teenwoordigheid gekweek het nie. Dawid het egter gesê: ‘Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand, daarom sal Ek nie struikel nie.’ Hierdie woorde is dalk die eenvoudigste en beste definisie van ‘n geestelike lewe. Die Bybel sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:16 NLV).

Jy vra: ‘Wat beteken dit vir my?’ Dit beteken dat Christus wat in jou woon, sy gedagtes deur jou kan dink. Is dit nie wonderlik nie? Wanneer jy ‘n gevoel van gerusstelling, of ‘n sin van leiding, of die oordeel van sonde voel, beteken dit dat God by jou is. Gee dus aandag en eer sy teenwoordigheid deur op Hom te reageer. Miskien het jy nog altyd gewonder wat dit beteken om ‘n pad saam met God te stap. Nou weet jy.

Sielskos: Heb 1-4; Mark 9:14-29; Ps 18:1-29; Spr 11:19-21