Jy moet dit self by God hoor
2021-11-12Josua 5:14 NLV
God het in die Nuwe Testament verskillende dinge aan elk van die sewe gemeentes in Openbaring beklemtoon. Hoekom? Omdat elkeen van hulle ‘n ander opdrag en verskillende uitdagings gehad het. Dis wys om goeie boeke te lees en na goeie mentors en onderwysers te luister, maar moenie aanneem dat dit wat God vir hulle gesê het, dieselfde is as wat Hy vir jou sê nie. Daar is tye wat jy self van Hom moet hoor.
Dis hoekom dit partykeer moeilik vir God is om tot predikers deur te dring. Wanneer Hy persoonlik met hulle oor ‘n spesifieke saak in hul eie lewens wil praat waaraan hulle aandag moet gee, gee hulle die boodskap ‘n inleiding, drie punte en ‘n gevolgtrekking – en preek dit dan eerder aan die gemeente as om dit self toe te pas! Paulus het geskryf: ‘Wat ons betref, ons sal nie buite perke trots wees nie. Ons bly binne die perk van die grense wat God vir ons uitgemeet het…’ (2 Korintiërs 10:13 NLV).
Jou outoriteit en seën hang daarvan af dat jy is waar God wil hê jy moet wees, besig om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Wanneer jy deur jou ego, of ander mense se verwagtinge, of ‘n doelwit wat God vir iemand anders gegee het, aangedryf word, stel jy jouself vir mislukking oop. Jy moet self by God hoor.
As God vir jou ‘n opdrag gegee het, word daar vir jou grense gestel! Jy kan nie net gaan waar jy lus het of doen wat jy wil nie, vra dus vir God om jou werk met sukses te kroon. As jy op die verkeerde plek is, besig om die verkeerde ding te doen, moet jy nie toelaat dat trots jou daar hou nie. Bid die volgende: ‘…Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?’ Doen dit dan!
Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Joh 10:11-21; Ps 133; Spr 26:7-12