Jy kan oor begin
2018-07-27Jesaja 43:18 DB
Alhoewel dit waar is dat ons almal van tyd tot tyd misluk, is dit goed om te onthou: Jy kan suksesvol misluk. Hoe? Deur uit jou foute te leer en wyser en sterker as gevolg daarvan te word. As jy oefen om ‘suksesvol’ te misluk kan jy sukses in die toekoms ervaar. Erken dus jou mislukkings, sien jouself as gereinig deur die bloed van Jesus, laat jou teleurstellings gaan en staan op en probeer weer. Op ‘n punt in Elia se lewe het hy so depressief geword dat hy gebid het om dood te gaan: “…’Ek het nou genoeg gehad, Here,’ het hy gesê. ‘Neem nou maar my lewe, want ek is niks beter as my voorouers nie'” (1 Konings 19:4 NLV). Later is hy deur God se genade versterk en het hy uit sy depressie ontwaak as ‘n nuwe man met ‘n nuwe doel in die lewe (sien verse 15-16 NLV). Nadat hy Christus openlik verloën het, is Petrus vergewe. Ten spyte van sy swakheid is hy herstel en het hy die apostel geword wat sy mede-apostels versterk het en die Nuwe Testamentiese kerk gebou het (sien Lukas 22:31-32). Dis nie ‘n kwessie van hoe erg of hoe gereeld jy misluk het nie – dis ‘n kwessie van wat God met jou kan doen wanneer jy sy genade aanvaar, weer opstaan en Hom toelaat om jou te bemagtig om beter te doen. Petrus is ‘n bewys dat God ons kan gebruik wanneer ons swak is en deur ons tot eer van Hom kan praat en optree (sien 1 Korintiërs 1:28). Sal God jou soms korrigeer? Ja, Hy is ‘n goeie ouer, maar Hy sal jou nooit weggooi nie. Die woord vir jou vandag is dus: Jy kan oor begin.
Sielskos: 1 Tim 4-6; Luk 9:37-45; Ps 42:1-5; Spr 19:12-14