Jy is onomkeerbaar in Christus geseën

2018-08-17
Numeri 23:20 NLV

Die Israeliete het die Beloofde Land verower en dit een stad en dorp op ‘n slag in besit geneem. Soos hulle Moab genader het, het een van die Moabitiese prinse genaamd Balak ‘n profeet met die naam Bileam gehuur om ‘n vloek oor die naderende Israelietiese nasie uit te spreek. Hulle het op ‘n berg gestaan wat oor Israel se kamp uitgekyk het en Balak het verwag dat vloeke uit Bileam se mond sou stroom. Daar het egter net seëninge uitgekom. Toe Balak vir Bileam bevraagteken, het hy geantwoord, ‘Ek het die opdrag gekry om te seën. Hy het geseën en ek kan dit nie omdraai nie. Hy het vir Jakob nie teëspoed in gedagte nie. Hy het nie moeilikheid in die vooruitsig vir Israel nie. Die Here sy God is by hom…’ (verse 20-21 NLV). Was dit omdat daar geen ongeregtigheid of boosheid tussen die Israeliete was nie? Nee. God het egter gekies om dit nie te sien nie, net soos Hy kies om nie jou foute en mislukkings raak te sien nie. Hy kies om jou ‘in Christus’ te sien, wie perfek is en wie se versoenende bloed al jou sondes, van die nuwe geboorte tot die nuwe Jerusalem, bedek. Wanneer die Israeliete elke aand kamp opgeslaan het, het hulle tente die vorm van ‘n groot kruis aangeneem, met die tente van agt van die stamme wat vertikaal geplaas is en vier stamme se tente wat horisontaal geplaas is. Dis hoe die Hemelse Vader jou as verloste kind sien. Hy kyk na jou – deur die kruis. Omdat die bloed van Jesus reeds vir elke sonde wat jy ooit sal pleeg betaal het, sien God jou as aanvaarbaar, geregtig en volmaak. Die woord vir jou vandag is dus: Omdat God jou in Christus sien, is jy onomkeerbaar geseënd.

Sielskos: 1 Kro 26:20-29:30; Luk 14:1-14; Ps 119:65-72; Spr 21:10-13