Jou woorde openbaar jou hart

2021-05-09
Matteus 26:73 NLV

Die woorde wat jy spreek, sal jou elke keer weggee. Een nag is Jesus gearresteer en al sy dissipels het uitmekaar gespat, maar Petrus het naby gebly om te kan sien wat gebeur – maar nie naby genoeg om met Hom geïdentifiseer te word nie. Die Bybel sê: ‘Nog ‘n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: ‘Jy is definitief een van hulle; jou aksent verklap jou.’ Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: ‘Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!’ Onmiddellik het die haan begin kraai. Skielik het Jesus se woorde deur Petrus se gedagtes geflits: ‘Voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.’ Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil’ (verse 73-75 NLV). Na daardie episode het niemand Petrus daarvan beskuldig dat hy ‘n volgeling van Jesus is nie!

Is dit nie interessant hoe ‘n gevloekery in enige taal die vermoë het om ander mense die kwaliteit van jou verhouding met Christus te laat bevraagteken nie? Jou woorde het die mag om mense op te bou of hulle af te breek, om hulle nader aan Christus te bring of om hulle weg te dryf.

Met dit in gedagte, is hier twee Skrifgedeeltes wat jy moet onderstreep en gereeld aan moet dink: 1) ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee’ (Kolossense 4:6 NLV). 2) ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).

Bid vandag die volgende gebed: ‘Vader, mag die woorde wat ek vandag spreek, eer aan die naam van Jesus bring en ander mense na Hom toe lei. In sy Naam bid ek dit, amen.’

Sielskos: Deut 9:13-29; Luk 4:1-13