Jou sondepatroon (8)
2018-10-28Romeine 12:10 NLV
Entoesiaste: Entoesiaste is die lewe en siel van die partytjie. Hulle is geneig om storievertellers te wees en hulle hou daarvan om oor hulleself te praat. As jy met hulle oor jou probleme probeer praat, sal hulle dalk aan die begin luister, maar dit sal nie lank aanhou nie. Die skrywer John Ortberg vertel dat hy saam met ‘n vriend by ‘n restaurant was. Elke keer wanneer hulle iets bestel het, het die kelnerin ‘Wonderlik,’ of ‘Uitstekende keuse,’ of ‘Briljant,’ gesê. Toe Ortberg haar vra, ‘Sê jy ooit, ‘Dit was ‘n simpel keuse,’ of ‘Dit gaan aaklig proe’?’ het sy geantwoord, ‘Nee, in die kombuis het ons ‘n lys van bevestigings en elke keer wat iemand iets bestel, moet ons vir hulle een van hierdie bevestigings gee.’ Entoesiaste het nie ‘n lys bevestigings nodig nie, omdat hulle altyd besig is om dinge soos ‘wonderlik,’ ‘wow,’ of ‘fantasties’ te sê. Soms kan hulle vir jare gaan sonder om die pyn en donkerte in ander mense, of selfs binne hulself, te sien. Hulle kom ook in die versoeking om hulle lewe om die najaging van positiewe gevoelens – die begeerte van bevrediging – te laat wentel; en hulle kan ontevrede raak wanneer hulle nie genoeg aandag kry nie. Wat is dus die antwoord? a) Spreek jou behoefte om die middelpunt van aandag te wees, aan. ‘As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’ b) Spreek jou ongewilligheid om pyn en ongemaklike situasies te hanteer, aan. Dit is ‘n eienskap wat tot isolasie en verslawing kan lei. ‘…Vind julle krag in julle verhouding met die Here, ja, in die krag van sý sterkte!’ (Efesiërs 6:10 NLV).
Sielskos: Rut 1:8-18; Rut 2:5-12; Rut 3:1-6; Rut 4:9-13