Jou sondepatroon (7)
2018-10-27Jesaja 41:10 NLV
Lojaliste: Lojaliste is mal daaroor om deel van ‘n goeie span te wees. Wanneer dit nodig is, kan jy op hulle staatmaak. Hulle begeer ‘n saak waaraan hulle hulself kan oorgee en wil deel wees van ‘n groep waarin hulle kan glo. Op hulle beste, help lojaliste almal anders om beter te word. Hulle is gewoonlik heel slim en welsprekend, alhoewel hulle nie altyd sommer hulle gedagtes sal deel nie. Hulle kan sinies word wanneer hulle teleurgesteld word – wat soms onvermydelik is. Dis hoekom die Bybel so baie vir ons sê om genade en vergifnis aan ander te bewys. Elkeen van ons het ‘n persoonlike persepsie van God; die manier wat ons God verstaan. Lojaliste sien God dikwels as moeilik om tevrede te stel, dus is hulle kenmerk dat hulle sonde vrees. Jesus het vertel van drie slawe wat elkeen ‘n som geld gegee is om te belê. Die eerste twee slawe het goeie beleggings gemaak wat ‘n goeie opbrengs vir hulle eienaar gebring het en hom tevrede gestel het. Die derde slaaf was egter bang om te misluk en dat sy eienaar vir hom sou kwaad wees en het dus sy talent in die grond begrawe (sien Matteus 25:14-30). Die betekenis van Christus se vergelyking is dat God sy hardste oordeel nie vir diegene wat probeer en misluk hou nie, maar vir diegene wat nie eers probeer nie, omdat hulle tot hulle vrees ingee. Iemand het geskat dat daar 365 ‘moenie bang wees nie’ teksverse in die Skrif is; een vir elke dag van die jaar. As God ‘n leuse kon gehad het, sou dit dalk gelees het, ‘Moenie bang wees nie.’ Moet dus nie bang wees nie – Hy is by jou vandag!
Sielskos: Jes 17-21; Joh 6:35-51; Ps 98; Spr 27:23-24