Jou sondepatroon (10)
2018-10-30Efesiërs 4:25 NLV
Vredemakers: Vredemakers floreer wanneer die lewe kalm is. Hulle is lief vir hierdie vers: ‘Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eengesind saamwoon!’ (Psalm 133:1 NLV). Hulle maak uitstekende beraders en bemiddelaars en kan gewoonlik versoening in families, gemeenskappe en werkplekke meebring. Soms is hulle egter geneig om vrede ten koste van enige prys te soek, hulle gebruik hul verhoudingsvaardighede om in die agtergrond te bly en hulle vermy dit om die inisiatief of risiko’s te neem omdat hulle te geheg aan gemak en sekuriteit is. Abraham is ‘n uitstekende voorbeeld van ‘n vredemaker. Toe hy en sy neef Lot begin vooruitgang maak het, het daar ‘n bakleiery tussen hulle veewagters uitgebreek omdat die land te klein was om al hulle vee te akkomodeer. Abraham het besef dat dit die familie in twee kon skeur en het aksie geneem, die probleem hanteer en die verhouding gered. Aan die ander kant, toe koning Abimelek Abraham se vrou, Sara, gesien het en haar deel van sy harem wou maak, het Abraham uit vrees vir sy lewe soos ‘n lafaard opgetree en ‘…vir die mense [vertel] dat sy vrou Sara sy suster is…’ (Genesis 20:2 NLV). Dis krities om jou sondepatroon te herken sodat jy dit effektief kan hanteer. Jesus het ons gewaarsku om nie die splinters in ander mense se oë raak te sien, as ons nie eers die balke in ons eie oë kan raaksien nie (sien Matteus 7:3). Jou sondepatroon is so aanloklik omdat dit jou grootste gevaar is; en dit is so naby aan jou dat jy dit moontlik nie sal raaksien nie. Dawid het gebid, ‘Wie kan sy eie oortredings herken? Spreek my vry oor verborge sondes, en bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie…’ (Psalm 19:13-14 NLV).
Sielskos: Jes 26-29; Joh 7:1-13; Ps 114; Spr 28:1-4