Jou persoonlike gids
2024-04-12Psalm 23:1 NLV
Dis maklik om te sê: ‘Die Here is my herder,’ maar hoe weet jy of dit waar is vir jou en of jy net die woorde sê? Hier is ‘n eenvoudige toets: Wanneer jy hulp nodig het, na wie toe draai jy eerste? Die meeste mense gaan eers na God toe nadat hulle reeds alles anders probeer het. Wanneer niks werk nie, probeer hulle om te bid. Dink aan jou laaste krisis. Die ding of persoon na wie jy eerste vir hulp gedraai het, is jou herder.
‘n Man op ‘n reis na die reënwoude in Afrika was besig om sy gids te volg. Soos hulle dieper in die woud inbeweeg het, het die gids met sy kapmes ‘n weg deur die plantegroei wat soos ‘n muur voor hulle gestaan het, gekap. ‘Hoe weet jy waarheen om te gaan?’ het die man gevra. ‘Waar is die pad?’ Die gids het geantwoord: ‘Ek is die pad.’ Die lewe is soos ‘n oerwoud; jy het ‘n gids nodig wat weet waarheen hy gaan en wat hy moet doen.
Is daar iemand hier op aarde wat gekwalifiseerd is daarvoor? Nee, net die Here is! Daar sal nooit ‘n dag verbygaan waar jy nie sy leiding nodig sal hê nie. Die Bybel sê: ‘…Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit… die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NLV). Wat ‘n belofte! Daar is altyd baie stemme wat op jou aandag aandring, insluitend sommiges wat nie regtig vir jou omgee nie. Jesus, jou herder, is egter die een stem wat jy altyd kan vertrou om jou op die regte pad te lei. Dis hoekom dit so belangrik is om sy stem te ken.
Sielskos: Jer 45-48; Mark 2:13-17; Ps 25:16-22; Spr 10:4-7