Jou identiteit bepaal jou erflating

2021-04-17
Romeine 8:17 NLV

Wanneer ons gunsteling sportspan wen, sê ons: ‘Ons het gewen!’ Wat bedoel jy met ‘ons’? Jy was nie op die veld nie. Jy het nie die bal gegooi of geskop nie. Jy het nie ‘n enkele doel aangeteken nie. Wat jy bedoel is dat omdat die span wat jy ondersteun en mee identifiseer gewen het, beteken dit dat jy ook gewen het.

Hier is ‘n belangrike geestelike waarheid vir jou as verloste kind van God. Toe Jesus gesterf het, het jy saam met Hom gesterf. Toe Jesus opgestaan het, het jy saam met Hom opgestaan om ‘n totaal nuwe lewe te leef (sien Romeine 6:4). Die verskil tussen jou en die span wat gewen het, is dat jy nooit inderwaarheid deel daarvan sal wees nie. Toe Jesus egter die kruis oorwin het en jy Hom as jou Redder aanvaar het, het God jou ‘in Christus’ geposisioneer. Vandag sien Hy jou geklee in eenheid met Christus se geregtigheid (sien 2 Korintiërs 5:21 NLV).

Paulus verduidelik dit as volg: ‘Want die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is. En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom…’ (Romeine 8:16-17 NLV). As verloste kind van God, beteken dat jy ‘n ‘erfgenaam’ is van alles wat jou hemelse Vader besit. Dit raak beter, jy is ook ‘n mede-erfgenaam saam met Jesus, wat beteken dat alles waarop Jesus geregtig is, jy ook op geregtig is.

Wanneer jy hierdie waarheid verstaan en daarvolgens begin lewe, sal jy begin om die seëninge wat God vir jou in sy Woord beloof het, te identifiseer en op te eis. Hierdie seëninge sluit dinge soos genade, vergifnis, genesing, voorsiening, leiding, krag ensovoorts, in. Jou identiteit in Christus maak jou op al hierdie dinge geregtig.

Sielskos: Dan 3-4; Mark 2:18-22; Ps 130; Spr 10:12