Is jy nuutgebore?
2020-11-06Johannes 3:7 AFR83
Die Anglikaanse predikant, George Whitefield, was net so verantwoordelik vir die transformasie van Engeland en die Groot Ontwaking in Amerika as John en Charles Wesley. In ‘n brief aan Benjamin Franklin, wat Whitefield se preke baie geniet het, het hy geskryf: ‘Soos ek sien dat jy meer en meer beroemd in die geleerde wêreld word, sal ek aanbeveel dat jy die misterie van die nuwe geboorte ywerig en onbevooroordelend bestudeer. Dit is ‘n baie belangrike studie en wanneer jy dit bemeester, sal dit al jou vrae ryklik antwoord. Ek herinner jou, my vriend, dat die Een voor wie ons eendag sal staan, verklaar het dat ons daarsonder nie sy koninkryk sal sien nie.’Dis ‘n baie wyse aanbeveling aan ‘n man wat deur die geskiedenis van die wêreld as baie wys gesien is.
Jesus het gesê: ‘…julle moet opnuut gebore word…,’ en daar was nog nooit ‘n persoon wat ernstig na die nuwe geboorte gesoek het en dit nie ontvang het nie. Selfs ons soeke daarna kom van die Gees van God af (sien Johannes 6:44).
Is jy moeg vir die leegheid en doelloosheid van jou lewe? Is jy moeg vir die vuil toiings van jou eie geregtigheid? Is jy gewillig om iemand anders, eerder as jouself, te vertrou? Kyk dan na die kruis van Christus. Plaas jou vertroue in Hom en vra Hom om vandag te kom en in jou gebore te word. Jy kan eenkeer gebore word en twee keer sterf, maar as jy twee keer gebore word, sal jy net een keer sterf. Jesus het gesê: ‘Wie glo in die Seun, besit nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie…’ (Johannes 3:36 NLV).
Sielskos: 1 Kro 1-2; Joh 8:42-59; Ps 123; Spr 25:18-20