Is jy gespanne? (2)

2024-06-09
Jesaja 55:12 NLV

Kom ons kyk na drie bewese en effektiewe strategieë om stres te hanteer.

1) Plaas jouself op jou daaglike doenlysie. Wys twee keer per dag vyftien minute om te hernu, te hergroepeer en te herstel, aan. Distansieer jouself van die bron van stres, al beteken dit bloot om vir ‘n paar minute buite te gaan stap om jou brein te verfris. Sing jou gunsteling liedjie of doen wat ook al jou help om te ontspan. Volhard daarmee, selfs wanneer ander belangrike take dreig om hierdie tyd vir jouself in te neem. Jy is belangrik – leer om jouself te waardeer.

2) Verbly jouself! Die Bybel sê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Wanneer jy jou vreugde verloor, verloor jy jou krag en jou vermoë om kwessies te hanteer. Sommige mense dink dat Christene altyd ernstig, humorloos en so stil soos die graf moet wees. Jesus het egter uit die graf opgestaan – en dis een van die beste redes in die wêreld om fees te vier.

3) Ontspan jou stywe spiere dwarsdeur die dag met stresverligters. Hou op dink en begin beweeg! Strek, buk vooroor, rol jou gespanne skouers, jaag die hond – laat verkwikkende bloed deur jou liggaam vloei terwyl jou gedagtes ‘n bietjie ontspan. Draai die aanbiddingsmusiek harder en lyndans terwyl jy die stofsuier rondstoot. Swaai jou heupe terwyl jy die kos op die stoof roer. Dans met die trollie by die winkel se gangetjie af! Fisiese aktiwiteit veroorsaak dat jou brein beta-endorfien afskei, wat help om jou te kalmeer.

Jy is nie gemaak om met stres te leef nie. Die Bybel sê: ‘Julle sal in blydskap wegtrek en in vrede gelei word…’ Dit kom reguit uit die mond van die Een wat jou geskep en verlos het.

Sielskos: Matt 5:3; Luk 18:9-14; Jes 57:14-21; 2 Sam 7:18-29