Is jy deur die kerk seergemaak? (2)

2025-10-14
Matteus 16:18 NLV

Die skrywer Sherry Surrat sê dat toe Jesus beloof het om sy kerk te bou: ‘… het Hy nie net van die bakstene of hout waaruit ‘n gebou bestaan, gepraat nie. Hy het gepraat van hoe Hy sy kerk uit gewone mense wat gebroke is bou en hulle deurmekaar lewens elke keer as hulle deur die deur stap, saambring. Dit is waarvoor Christus gesterf het. Hy het gesterf vir mense – vir sy kerk. Sy kerk is ‘n groep mense wat deur ander mense gelei word en nie een van ons is perfek nie. Ons is ‘n gebroke klomp wat hopelik ons eie gebrokenheid raaksien en erken dat Jesus die enigste geneesmiddel is.

Dit maak nie saak hoe lank ons al in die kerk is nie, ons bereik nooit volmaaktheid nie. Ons moet elke dag daaraan werk. Ons stamp mekaar en maak mekaar seer. Ons neig om dit wat ons seermaak te vermy. Wanneer ons dus met skinderpraatjies oor ons te doen kry, of haat of huigelary onder ons medekerkgangers of selfs by ons predikante sien, is dit natuurlik om te oorweeg om weg te stap. Wanneer ons dit egter doen, verlaat ons iets wat God vir ons eie beswil gebou het.

Die Bybel sê nooit dat ander mense ons nie sal seermaak nie. Wat dit ons wel leer, is dat dit nie sal help om met ons seerkry te sit en jammer vir onsself te voel nie (sien Matteus 5:24). God se Woord waarsku ons om nie toe te laat dat bitterheid posvat nie (sien Hebreërs 12:15). Dit beteken nie dat ons moet sit en voorgee dat niks gebeur het nie. Ons moet egter eerlik wees deur te erken wanneer ons gees verpletter is en om die wraak aan God oor te laat.’

Sielskos: 2 Pet 1-3; Joh 4:27-38; Ps 87; Spr 24:1-4