Is jou nette leeg?
2022-08-04Johannes 21:3 NLV
Toe Jesus sy dissipels geroep het, het Hy vir hulle gesê: ‘…Ek sal julle vissers van mense maak’ (Matteus 4:19 NLV). Tog, nadat hulle gehoor het dat Hy belowe het om uit die dood uit op te staan en Hom ook na die opstanding gesien het, het hulle teruggekeer na dit wat hulle gedoen het voor hulle Hom ontmoet het: visvang.
God sal jou ervarings in die verlede gebruik om jou te onderrig, maar Hy lei jou altyd vorentoe – nooit terug nie. Wanneer vrees en onsekerheid jou wil laat terugkeer na die sekuriteit wat jy ken, eindig jy soos die dissipels op: ‘…[hulle] het gedurende daardie nag niks gevang nie.’
Daar is egter goeie nuus: As God jou geroep het, is jy steeds geroepe. Let op hoe Jesus hulle aangespreek het: ‘…Kinders, het julle nie iets om te eet nie?..’ (Johannes 21:5 NLV). Ten spyte van jou gebrekkige prestasie, is jy steeds God se verloste kind. Vervolgens sê Hy vir hulle: “…’Gooi die net aan die regterkant van die boot uit en julle sal vis kry.’ Hulle het die net uitgegooi, maar kon dit nie weer intrek nie as gevolg van die groot hoeveelheid vis. Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: ‘Dit is die Here!’…” (Johannes 21:6-7 NLV). Jesus het toe saam met hulle ontbyt geëet, hulle vertwyfelinge verwyder en hulle bemagtig om die wêreld te verander.
Wanneer jy buite God se wil werk, is dit om soos aan die verkeerde kant van die boot vis te vang; jy maak net jouself moeg en het min om vir jou inspanning te wys. Misluk jy? Dalk is jy besig om aan die verkeerde kant van die boot vis te vang. Dinge sal begin uitwerk wanneer jy jouself aan Christus onderwerp, jou verbondskap met Hom vernuwe en Hom toelaat om jou te lei.
Sielskos: Deut 5-7; Mark 2:1-12; Ps 78:40-55; Spr 16:32