Hy stuur jou nie; Hy neem jou
2019-01-06Deuteronomium 31:6 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n klein seuntjie wat vir die donker bang was. Een aand het sy ma hom gevra om die mop op die agterstoep te gaan haal. Sy het gesê: ‘Het ek nie nog altyd vir jou gesê dat daar niks in die donker is om voor bang te wees nie?’ Hy het gesê: ‘Ja, Mamma, maar moet my asb nie stuur om die mop te gaan haal nie.’ Sy het geantwoord: ‘Seun, weet jy nie dat Jesus altyd by jou sal wees nie? Weet jy nie dat daar niks is waarvoor jy hoef bang te wees nie?’ Hy het geantwoord: ‘Ja, Mamma.’ Dus het sy gesê: ‘Nou goed, gaan gou buitentoe en gaan haal vir my die mop.’ Hy het die agterdeur op ‘n skrefie oopgemaak, sy hand uitgesteek en gefluister: ‘Jesus, sal U asseblief vir my daardie mop aangee?’ Dis normaal om bang te voel wanneer jy probeer om iets te doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie. Wanneer jy gevra word om ‘n werk te doen waarvoor jy ongekwalifiseerd voel, of wanneer jy iets aanpak waarin jy vroeër misluk het, is dit normaal om bang te voel. Dis egter wanneer jy die ding doen wat jy vrees, dat jy groei en dat jou vertroue in God groei. Vandag sê God vir jou: ‘Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ God bly by jou, waar jy ook al gaan. Dit behoort jou te motiveer om enige plek te gaan waarheen Hy jou stuur. Die waarheid is dat wanneer God jou sê om te gaan, stuur Hy jou nie êrens heen nie, Hy neem jou soontoe.
Sielskos: 2 Kro 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8