Hou op kla oor jou ouers
2018-08-22Spreuke 23:22 NLV
Jy leer nie hoe om ‘n ouer te wees by ‘n skool of kollege nie, jy leer dit soos jy aangaan. Jy maak baie foute, sommige wat jou laat ineenkrimp wanneer jy daarop terugkyk. Deur dit alles is jy egter lief vir jou kinders en wil jy net die beste vir hulle hê. Wat is die punt wat ons probeer maak? As jou ouers jou gefaal het, het jy heel waarskynlik wonde wat gesond gemaak moet word. God sê gelukkig vir ons, ‘…Ek is die Here wat julle gesond sal hou’ (Eksodus 15:26 NLV). Moenie in die gat van selfbejammering verval omdat jy die idee het dat jy uit ‘n ‘disfunksionele familie’ kom nie. Sommige families is beter as ander, maar almal van hulle het areas van disfunksie. Kyk terug en oorweeg jou ouers se omstandighede en die uitdagings wat hulle gehad het toe hulle jou grootgemaak het en miskien sal jy hulle foute met ‘n bietjie meer deernis kan sien. Hulle is mense, net soos jy; hulle maak foute, net soos jy. Niemand is perfek nie. Deur deernis aan hulle te bewys, sal dit vir jou makliker maak om deernis met jouself te hê wanneer jy foute met jou eie kinders maak. En – hierdie is belangrik – wanneer jou kinders sien dat jy genadig teenoor jou ouers optree, sal hulle ook makliker genade teenoor jou bewys. As jy dus nodig het om jou ouers te vergewe, doen dit vandag en beweeg aan. Moenie dit aanhou ophaal nie. Sal jy daarvan hou dat God jou aanhoudend aan al die sondes waarvoor Hy jou vergewe het herinner? Nie? Probeer dan om dieselfde genade en deernis te bewys. Bid ook vir hulle, want wanneer jy vir iemand bid is dit moeilik om oor hulle te kla!
Sielskos: 2 Kro 12-15; Luk 15:11-32; Ps 119:97-104; Spr 21:24-27