Hoe om vrugte te dra (4)

2022-01-05
Lukas 8:14 NLV

Jy moet die onkruid uitwis. Jesus het in sy bekende gelykenis gesê dat die saad op vier verskillende tipes grond geval het. ‘Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie’ (vers 14 NLV).

Let op dat daar drie soorte ‘onkruid’ is wat jou daarvan kan weerhou om geestelik volwasse te word. 1) Sorge. Jy raak so besig met alledaagse sorge dat jy jou oë van Jesus afneem. 2) Rykdom. Om geld te maak en dinge te koop domineer jou lewe in so ‘n groot mate dat jy nie tyd vir die Here het nie. 3) Plesiere. Deur die ‘goeie lewe’ na te streef, kan jou geestelike groei verwurg word.

Dis in die haak om ‘n goeie tyd te hê, maar jy moet jou prioriteite beskerm. As jy tyd het om inkopies te doen, strand toe te gaan, gholf te speel of ure voor die televisie deur te bring, maar nie tyd het om jou Bybel te lees nie, is jou prioriteite uit balans uit. Jy sê: ‘Ek het eenvoudig nie tyd om die Here te dien nie.’ Dan is jy te besig! Jy moet dan die onkruid uittrek.

Baie dinge in die lewe is nie noodwendig verkeerd nie; hulle is net nie noodsaaklik nie. Miskien moet jy jou skedule ‘n bietjie aanpas om die onkruid te verwyder. Jy moet na jou tamatieplante omsien, maar jy hoef nie enigiets te doen om kakiebos te produseer nie; hulle groei vanself wanneer jy jou tuin verwaarloos. Kry jy die idee? As die ‘onkruid’ in jou lewe jou daarvan weerhou om ‘vrugte’ te dra, is dit tyd om aksie te neem.

Sielskos: Gen 7-9; Luk 1:26-38; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16