Hoe om probleme op te los

2021-11-02
Johannes 14:26 NLV

Eerstens, luister na die Heilige Gees binne-in jou. Hy sal jou aanhoudend aan God se plan herinner en jou wys hoe om dit uit te dra. Hy sal jou ‘…in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (vers 26 NLV). Wat het God se Woord jou opdrag gegee om te doen? Het jy dit al gedoen? Gehoorsaamheid is die deurgang na seën toe.

Tweedens, bestee daagliks tyd met God in gebed: ‘Want as gevaar dreig, sal Hy my wegsteek. Hy sal my in sy woning verberg… Dan sal ek my kop hoog oplig bokant my vyande wat my omring…’ (Psalm 27:5-6 NLV). Laat jy toe dat dinge wat nie regtig saak maak nie, jou oorweldig? Raak jy ontsteld oor dinge wat eintlik as onbenullighede afgemaak moet word? Bestee dan tyd alleen saam met God en laat Hom toe om jou perspektief te herstel.

Derdens, moet nooit te trots wees om raad en bystand op te soek nie. Die Bybel sê dat diegene van ons wat sterk is, die laste van die swakkes behoort te dra (sien Romeine 15:1). Daar is tye wanneer ons ander mense moet ophef en ander tye wanneer ons weer nodig het om opgehef te word. Jesus het ‘n vrou wat vir agtien jaar aan ‘n siekte gely het, wat haar kromgetrek het sodat sy nie meer kon regop staan nie, genees (sien Lukas 13:11 NLV). Soms het jy hulp nodig omdat jy nie jouself kan help nie. Dawid het dit verstaan en na die manne van Issaskar gedraai, want: ‘…Hierdie manne het die tye verstaan en geweet wat vir Israel die beste pad is’ (1 Kronieke 12:32 NLV). God het hulp voorsien – reik daarna uit!

Sielskos: 1 Kro 1-2; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 24:30-34