Hoe om jou visie te ontdek (2)
2021-12-05Handelinge 9:6 AFR53
Paulus het geglo dat hy besig was om God se wil te doen deur Christene gevange te neem en dood te maak. Toe hy egter sy ware roeping ontdek het, het dit op ‘n dramatiese wyse plaasgevind. ‘Toe hy op sy sending naby Damaskus kom, het daar skielik ‘n lig uit die hemel hom omstraal! Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ het hy toe gevra. ‘Ek is Jesus,’ antwoord Hy. ‘Dis vir Mý wat jy vervolg! Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan’ (verse 3-6 NLV). Daardie dag het sy bediening begin; een wat bestem was om die wêreld te verander! Soos sy lewe tot ‘n einde gekom het, kon hy sê: ‘…ek [was] nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam… nie’ (Handelinge 26:19 NLV).
Jou visie moet nie uit jou behoefte om ander mense te beïndruk of soos hulle te wees, ontstaan nie. Jy is geroepe om God se wil, nie jou eie of iemand anders s’n nie, te doen. Die Bybel sê: ‘Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel’ (Hosea 5:11 AFR53). Jou visie moet die resultaat van goddelike leiding wees, nie as gevolg van ‘die gebod van mense’ nie. Jy moet die volgende kan bid: ‘Here, U het my hierdie visie gegee en ek vertrou dat U my van alles sal voorsien wat nodig is daarvoor.’ Die apostel Johannes skryf: ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister’ (1 Johannes 5:14 NLV).
Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Tim 2:1-13; 1 Kor 16:1