Hoe om jou visie te ontdek (1)

2021-12-04
Jeremia 23:16 NLV

Jy kan nie God se doel vir jou lewe besluit nie, jy ontdek dit. Hoe doen jy dit? Deur gebed. God sê: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het…’ (Jeremia 29:11 NLV). Jou ouers mag dalk nie jou koms beplan het nie, maar God het. Jy mag dalk deur probleme oorweldig wees, maar God sien jou potensiaal raak.

Dawid se familie het nie gedink dat hy veel sou bereik nie. Waar hulle ‘n skaapwagter gesien het, het God egter ‘n koning gesien. Toe hy daarop terugkyk het, het Dawid geskryf: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!.. As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal U nog by my wees’ (Psalm 139:16-18 NLV).

Jy is uniek – en so ook God se plan vir jou. Dis bemoedigend om stories te lees en na groot presteerders te luister en te dink: ‘As hulle dit kan doen, kan ek ook!’ Die geheim is egter om by ander te leer, sonder om hulle te probeer na-aap. Dis nie genoeg om ‘n goeie idee te hê nie; dit moet ook die wil van God wees. Jy kan nie besluit wat jou visie moet wees nie; jy ontdek dit deur na God vir leiding te draai. Sy Woord sê dat Hy dit vir jou sal gee: “Jy sal ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs'” (Jesaja 30:21 NLV). Dis hoe jy weet dit kom van die Here af!

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Joh 16:12-18; Ps 2; Spr 28:25-28