God en jou geld (6)

2020-05-23
Deuteronomium 8:18 NLV

Wanneer dit by God en jou geld kom: 1) Sal Hy jou seën wanneer jy doen wat Hom behaag. Hoekom? Omdat jy met jou dade bewys dat dit vir jou belangriker is om sy wil te doen, as om jou eie dinge te doen. ‘…Uitstekend!.. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou…’ (Matteus 25:23 NLV). Daar is egter ‘n ander kant van die muntstuk. Wanneer jy willens en wetens dit doen wat God nie behaag nie, sal Hy ophou om jou te seën. ‘…Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het. Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word… Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word’ (verse 28-29 NLV). 2) Sal Hy jou wys hoe om meer geld te maak. Hy het vir Josef gewys hoe om te midde van ‘n wêreldwye hongersnood voorspoedig te wees en die nasies rondom hom te seën. Toe die visse nie wou byt nie, het Jesus vir die dissipels gewys waar om ‘n bootvrag visse te kry. God werk deur onwaarskynlike kanale en Hy wil hê dat jy op Hom moet vertrou as die bron van alles wat jy nodig het. Die Bybel sê: ‘Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ Die woord ‘krag’ sluit idees, strategieë, planne, verhoudings en beleggings in. Ja, God kan vir jou ‘n onverwagte tjek in die pos stuur wat jou probleem tydelik sal oplos, maar jy moet Hom vertrou vir ‘n plan wat jou probleem permanent sal oplos.

Sielskos: Heb 11:17-13:25; Mark 11:1-11; Ps 47; Spr 12:4-6