God en jou geld (1)

2020-05-18
Psalm 84:12 NLV

Wat jy oor God en jou geld glo, sal bepaal hoe jy bid en waarvoor jy Hom vertrou. Jy sê: ‘Maar geld is die wortel van alle kwaad.’ Nee, die Bybel sê: ‘…die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad…’ (1 Timoteus 6:10 NLV). Dit beteken dat as jy ‘n gierigaard is, God nie vir jou nog sal gee nie. ‘Het sommige predikers nie al die Bybel gebruik om hulself te verryk nie?’ vra jy. Absoluut – en jy sal nie in hulle skoene wil staan wanneer hulle voor God verantwoording moet doen nie! Moet egter nie die baba saam met die badwater uitgooi nie. Die vraag is: Soek jy vir ‘n rede om aan God se beloftes te twyfel, of vir ‘n rede om in hulle te glo? Die Bybel sê: ‘…Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Ons almal kan saamstem dat om vir jou familie te sorg, bevordering te kry, jou kinders te laat leer en om aan ander mense se behoeftes te voldoen, ‘goeie’ dinge is. Wanneer jy dus ‘doen wat reg is’ voor God, kan jy verwag dat Hy jou sal seën. Johannes het geskryf: ‘Liewe vriend, ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes 2 NLV). Eers wanneer jou kinders volwasse is en verantwoordelikheid demonstreer, vertrou ons hulle met die sleutel van die familiekar, nie waar nie? Volwassenheid moet dus voorspoed vooruitgaan. Wanneer jy volwassenheid demonstreer, kan jy met vertroue na God toe gaan met die wete dat Hy aan jou behoeftes sal voldoen en jou sal seën. Die vraag is dus: Is jy besig om geestelik te groei en volwasse te word?

Sielskos: Jona 1-4; Mark 9:38-50; Ps 75; Spr 11:23