Gee jou kinders riglyne om volgens te lewe
2024-04-15Deuteronomium 6:6-7 NLV
Probeer jy jou kinders agter slot en grendel hou om hulle so uit die moeilikheid te hou? Dit sal nie werk nie. Jy hou hulle nie uit die moeilikheid nie, jy stel dit net uit. Dinge soos aandklokreëls, kleredragkodes, internetgebruik en om meer van hulle vriende uit te vind is deel van goeie ouerskap.
Wanneer jy egter nie by hulle is om hulle te lei nie, het hulle riglyne nodig om volgens te lewe. Hierdie riglyne kan in God se Woord gevind word: ‘Jy moet jouself heelhartig verbind aan die gebooie wat ek vandag vir jou gee. Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders. Praat daaroor by die huis en wanneer julle op pad is, wanneer julle lê of wanneer julle opstaan. Bind dit op jou hande as ‘n herinnering en dra dit op jou voorkop. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en van jou poorte’ (verse 6-9 NLV).
Is dit nie interessant hoe elke volgende generasie die vorige een as outyds en verouderd beskou nie? Dis egter nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Elke generasie glo dat daar ‘n beter manier is om dinge te doen, wat die fondasie van vooruitgang is. Dis hoekom dit net ses ure neem om van New York tot by Los Angeles met ‘n vliegtuig te reis, in plaas van drie weke met ‘n stoomskip.
God se Woord kan die toets van tyd deurstaan. In plaas daarvan om dus jou kinders stil te maak, nooi hulle uit om vrae te vra en aannames uit te daag. Help hulle dan om by die vaste Skriftuurlike riglyne om volgens te lewe, uit te kom. As ouer is daar geen groter geskenk wat jy vir hulle kan gee nie.
Sielskos: Jer 51-52; Mark 2:23-28; Ps 50:16-23; Spr 10:11-13