Fokus jou gedagtes op die Here

2022-06-25
Psalm 112:7 NLV

Daar is ‘n groot verskil tussen om van tyd tot tyd aan God te dink en jou gedagtes op Hom te fokus. In ooreenstemming met die sielkundige William James, skryf die navorser Jeffrey Schwartz die volgende: ‘Die noodsaaklike prestasie van die wil is om aan een voorwerp aandag te gee en dit duidelik en sterk voorop in die gedagtes te hou, sodat al die ander – sy mededingers vir aandag en daaropvolgende aksie – verdwyn soos sterlig wat deur die glans van die son oorval word.’

Het jy al ooit ‘n kontaklens op ‘n mat laat val? Jou intense fokus veroorsaak dat jou brein enigiets wat jou aandag daarvan aflei om die verlore lens te vind, onderdruk – die mat se kleur en patroon en koekiekrummels. Jou gedagtes is gefokus. Dis verstommend hoeveel mense hulself as slagoffers van watter gedagtes ook al deur hulle kop hardloop, sien. Dis asof hulle passiewe toeskouers met geen beheer is nie, wat kyk hoe ongewenste gedagtes oor die skerm van hulle bewussyn blaai.

Verstaan die volgende: Daar is tans ‘n stryd aan die gang wat deur Satan geloods word om die soort gedagtes waaraan jy dink, te beheer. Jy kan nie hierdie stryd sonder God se hulp wen nie. Die uiteindelike vryheid – een wat niemand van jou kan wegneem nie – is die vryheid om te besluit by wat jou gedagtes gaan stilstaan. Die Psalmdigter het die ware geseënde mens as volg beskryf: ‘…hy is gerus, hy vertrou op die Here.’ Wanneer jy op God vertrou en jou gedagtes op Hom gefokus is, sal jy bewyse van sy teenwoordigheid oral waar jy kyk, sien. Jy sal dan met sekerheid kan sê: ‘U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe…’ (Psalm 23:6 NLV). Hou dus jou gedagtes op God gefokus.

Sielskos: Hosea 6-10; Matt 21:18-32; Ps 8; Spr 14:9-12