Eer God en Hy sal jou eer

2024-05-05
Daniël 3:25 DB

Daar kom ‘n tyd wanneer ons ons vrese moet trotseer en standpunt vir dit wat ons weet reg is, moet inneem. Dis wat Sadrag, Mesag en Abednego gedoen het. Hulle het hul lewens gewaag toe hulle geweier het om koning Nebukadnesar se afgodsbeeld te aanbid. Hulle kon dalk gesê het: ‘Ek sal aan die buitekant buig, maar binne-in my weet ek dat ek dit nie bedoel nie,’ of ‘Ek sal net voorgee asof die afgodsbeeld Jehova is.’ Hulle het egter ‘n standpunt ingeneem vir wat reg is en dit het ‘n wonderwerk tot gevolg gehad.

‘Skielik het Nebukadnesar van verbasing opgespring en vir sy raadgewers gevra: ‘Het ons nie net drie mans vasgemaak en in die oond gegooi nie?’ ‘Dit is waar, U Majesteit,’ het hulle geantwoord. ‘Wel, hoekom sien ek dan vier mense daar in die vuur rondloop? Kyk, hulle is nie eers vasgebind nie en die vuur doen net mooi niks aan hulle nie. Boonop lyk die vierde persoon vir my net soos ‘n hemelwese’ (verse 24-25 DB).

Indien Sadrag, Mesag en Abednego voor die afgodsbeeld gebuig het, 1) sou hulle nie bevordering gekry het nie, 2) die Joodse mense sou nie beskermde status in Babel gekry het nie, 3) afgodsaanbidding sou voortgegaan het en 4) Nebukadnesar sou nie ‘n lewensveranderende ontmoeting met God gehad het nie. ‘Toe sê Nebukadnesar: ‘Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om hierdie mense wat Hom dien en vertrou te kom red… Daar is nie nog ‘n god hier op aarde wat so kan red nie. Hierna het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego na nog hoër posisies in die provinsie Babel bevorder’ (verse 28-30 DB). Deur God vandag te eer, plaas jy jouself in die posisie vir Hom om jou te seën en jou te eer.

Sielskos: Gal 5:22; Luk 6:27-36; Eks 23:1-9; Rom 12:14-21