Die sewe-dag-uitdaging

2024-03-09
Filippense 2:14 NLV

Sommige kankers, soos velkanker, is meer opmerklik en jy kan dit laat verwyder. Dan is daar die soort wat onopgemerk groei en jou liggaam vernietig. Om te kla is dieselfde; dit beïnvloed jou gesondheid en saboteer jou sukses. Paulus sê: ‘Doen alles sonder kla of teëpraat.’

Dr Ann Shorb skryf: ‘As jy jouself bevind waar jy negatief en af voel, begin luister na dit wat rondom jou gesê word. Word daar baie gegrom en gekla? Is die mense saam met wie jy tyd bestee gedurig besig om uitdrukking aan ontmoedigende gedagtes en gevoelens te gee? Miskien is jy die een wat grom en kla. Baie keer word ons ons eie grootste vyand deur ‘n kwaai of bitter houding te ontwikkel. Jou gedagtes en houding is jou keuse. Jou gedagtes is jou verantwoordelikheid! Volg die riglyne wat Paulus gegee het om die negatiewe af te gooi en die positiewe aan te trek (sien Kolossense 3:1-15 en Efesiërs 4:20-32). Erken dat daar probleme is, maar moenie daarby stilstaan nie. Doen wat jy kan om die situasie reg te stel. Onthou, jy kan nooit ‘n ander persoon verander nie, jy kan slegs jouself en jou houding verander. Vind die positiewe dinge, fokus daarop en wees dankbaar dat God beloof het om deur die moeilike tye by jou te wees. Deur jou denke te verander, verander jy jou uitkyk en deur jou uitkyk te verander, verander jy jou lewe.’

Vir een mens lyk die wêreld wanhopig; vir ‘n ander lyk dieselfde wêreld ryk en interessant. Wat jy sien, hang hoofsaaklik af van waarna jy soek. Besluit om vir ‘n dag nie te kla nie. Daag jouself dan uit om vir ‘n week nie te kla nie. Jy sal verbaas wees hoeveel beter jy voel.

Sielskos: Op 19-22; Matt 22:1-14; Ps 106:1-23; Spr 7:1-2