Die regte houding (1)

2024-05-08
Filippense 2:3 NLV

Let op: 1) Die regte houding maak die verskil in jou verhoudings. Theodore Roosevelt het gesê: ‘Die belangrikste enkele bestanddeel in die formule van sukses is die wete hoe om met mense oor die weg te kom.’ Paulus skryf ook: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (verse 3-4 NLV). As jou rekord met mense nie te goed lyk nie, moet jy dalk na jou houding kyk. Terwyl dit waar is dat sekere mense net ‘n manier het om goed met mense oor die weg te kom, kan selfs iemand met beperkte kommunikasievaardighede leer om met ander oor die weg te kom as hy of sy besluit om hulle houding en aanslag te verander.

2) Jou houding maak ‘n verskil in hoe jy die uitdagings van die lewe benader. Gedurende die Koreaanse oorlog, toe die Amerikaanse soldaat Chesty Puller deur agt vyandige troepe omring was, het hy gesê: ‘Nou goed, hulle is aan ons linkerkant. Hulle is aan ons regterkant. Hulle is voor ons. Hulle is agter ons – hulle kan nie hierdie keer van ons wegkom nie!’ Probleme, uitdagings, struikelblokke en mislukkings is onvermydelik in die lewe. Hoe gaan jy dit dus hanteer? Gaan jy tou opgooi? Gaan jy toelaat dat die omstandighede jou ellendig laat voel? Of gaan jy probeer om die beste daarvan te maak? Die pad wat jy kies gaan van jou houding afhang. Die ou gesegde is waar: Wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker. Onthou die tye in jou lewe wat jy die meeste gegroei het. Was dit nie tye toe jy struikelblokke en probleme moes oorkom nie?

Sielskos: Deut 14-17; Mark 7:1-13; Ps 37:25-31; Spr 12:1-3