Die rede hoekom jy nog hier is

2022-03-05
Genesis 32:30 NLV

‘Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: ‘Ek het God persoonlik gesien. Tog is my lewe gespaar.’ Die son het opgekom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af was hy mank aan sy heup’ (verse 30-31 NLV). Die waarheid is dat sonder God se beskermende hand oor jou lewe, jy nie vandag hier sou wees nie! Die rede dat jy nie in die ongeluk gesterf het nie, of dat die gewas nie jou lewe geneem het nie, is omdat God nog nie klaar is met jou nie.

God het jou gered en jou geplaas waar jy vandag is. Nadat God klaar met hom gestoei het, het Jakob gesê: ‘My lewe is gespaar.’ Joune ook, nie waar nie? Die Bybel sê: ‘…Hy kan… iets uit niks tot stand bring’ (Romeine 4:17 DB). Hy wil dinge in jou lewe in plek stel wat nie vantevore daar was nie. Goeie dinge!

Let egter iets baie belangriks op: ‘[Jakob] het alleen agtergebly. Dáár kom hy ‘n man teë wat tot dagbreek met hom worstel’ (Genesis 32:24 NLV). Wanneer God oor belangrike kwessies met jou werk, doen Hy dit een-tot-een, nie as deel van die skare nie. Om in ‘n skare te wees kan jou inderwaarheid daarvan weerhou om sy stem te hoor.

Dit kan bedreigend voel om alleen by God te wees, omdat jou fasade en ego weggestroop word. Jou eerste impuls mag dalk wees om in die skare te bly, maar jy sal gou ontdek dat hulle nie die rusteloosheid in jou gees kan kalmeer nie. Daardie rusteloosheid is God wat jou vir ‘n ontmoeting roep! Moet dus nie, soos Jakob, bang wees om met Hom te worstel totdat ‘n nuwe dag vir jou breek nie.

Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31