Die Heilige Gees bid deur jou

2024-04-11
Romeine 8:26 ABA

Die lewe kan jou aftrek. Jy kan by ‘n plek kom waar die angs so diep gesetel is of jou stresvlakke so hoog is dat jy nie helder kan dink nie. Die probleem of pyn wat jy ervaar is so oorweldigend dat jy dit nie in woorde kan stel nie. Goeie nuus: Dis dan wanneer die Heilige Gees wat in jou woon, vir jou en deur jou bid.

Soos jy jou laste na die Here toe bring en in sy teenwoordigheid kniel, gebeur daar ‘n wonderlike ding: ‘Die Heilige Gees help ons ook wanneer ons bid. Ons kan nie bid soos God wil hê ons moet bid nie, want ons is swak, maar wanneer die Gees by God kla en sug, dan sê Hy vir God dinge wat mense nie self kan sê nie. God weet alles wat mense dink en Hy weet ook wat die Heilige Gees dink. God weet die Gees doen wat God wil hê, en die Gees sê vir God wat die mense bid, die mense wat aan God behoort’ (verse 26-28 ABA).

Wanneer jy nie weet hoe om te bid nie – word net stil. Bly net met ‘n oop gemoed in God se teenwoordigheid en Hy sal met jou kommunikeer. ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). Voor God ‘n antwoord in jou gedagtes plaas, plaas Hy sy vrede in jou hart. Dis hoekom gebed nie aangejaag kan word nie. Dis hoekom dit so belangrik is om tyd te neem om voor God te mediteer en stil te wees. Dit laat die Heilige Gees toe om God se gedagtes met jou te deel, sodat jy soos Hy kan begin dink.

Sielskos: Jer 41-44; Mark 2:1-12; Ps 25:8-15; Spr 10:1-3