2025-06-15
Efesiërs 6:4 ABA
Daar is ‘n verhaal van ‘n man in ‘n kruidenierswinkel wat ‘n trollie met ‘n skreeuende baba gestoot het. Hy het saggies herhaal: ‘Bly kalm, George. Alles gaan oukei wees, George.’ ‘n Dame wat met bewondering toegekyk het, het vir die man gesê: ‘Jy moet vir jou geduld om klein George te probeer stilmaak, geloof word.’ Die man het geantwoord: ‘Dame, jy het dit verkeerd; ek is George!’
As jy ‘n ouer is, kan jy hiermee identifiseer. In plaas daarvan om te lees: ‘Pa’s, julle moenie julle kinders kwaad maak nie,’ voel dit soms of die Skrif moet lees: ‘Kinders, moenie julle pa’s se siele versondig nie.’ Dit doen egter nie. Ouers is geroep om ‘n voorbeeld van God se liefde te wees en kinders leer die beste deur waarneming. Inkopies by die kruidenierswinkel is ‘n geleentheid om jou kinders die regte manier van optrede, te wys. Daar is geen groter rolmodel vir kinders as ‘n ouer nie. Daar was ook nog nooit ‘n groter behoefte aan godvrugtige ouers as vandag nie. Kolossense 3:21 sê: ‘Ouers, moenie aanhou foutvind met julle kinders nie sodat hulle nie moedeloos word nie’ (NLV). Dit beteken dat jy ‘n model van geduld en liefde vir jou kinders moet wees.
Ouers word deur God in plek gestel om ‘n instrument te wees wat die leerstellings van die Bybel in ‘n lewende getuie vir hul kinders kan omskep. In ‘n tyd wanneer ons ‘n hoë prys weens die gebrek aan regte vaders in die huis betaal, herinner die Skrif ons: ‘…Vaders moet hulle kinders van u getrouheid vertel’ (Jesaja 38:19 NLV). Pa, wy jouself daaraan toe om die Here te volg en voetspore vir jou kinders waarin hulle kan loop, na te laat.
Sielskos: Matt 28:16-20; 2 Kor 13:14; Joh 1:18; Joh 15:18-26
2025-06-14
Kolossense 1:10 NLV
Om te verander, moet jy jouself aan die proses toewy. Of dit nou in jou loopbaan, jou huwelik, jou bediening of jou wandel met God is, sodra jy jouself aan groei en ontwikkeling en ‘n leefstyl van beplande verbetering toewy, word dit jou nuwe normaal. Jy besef wanneer jy nie vordering maak nie. Iets skort!
Daar word beweer dat die Pools-Amerikaanse klassieke pianis Arthur Rubinstein geweier het om na opnames van sy spel te luister. Selfs net ‘n paar maande na die optrede was hy ontevrede met wat hy gehoor het. Hoekom? Omdat hy verander en verbeter het – maar sy opnames het dit nie weerspieël nie.
Stop en dink oor die ononderhandelbare dinge in jou lewe. Waarvoor is jy bereid om te lewe en te sterf? Skryf neer waaraan jy ten alle koste wil vashou, en verduidelik volledig hoekom. Nadat jy dit gedoen het, moet alles anders vir verandering oop wees.
Paulus het as volg vir die Christene in die kerk in Kolosse gebid: ‘…Ons vra God dat Hy geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê. Dan sal julle leefstyl tot eer van die Here wees en Hy sal daarmee tevrede wees. Julle sal produktief wees in elke goeie werk en God al hoe beter persoonlik leer ken. Deur die krag van sy Goddelike heerlikheid sal Hy julle toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle altyd die Vader dank. Hy het julle geskik gemaak om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat volgens sy wil lewe’ (verse 9-12 NLV).
Sielskos: Hosea 6-10; Mark 14:43-52; Ps 139:7-12; Spr 13:24
2025-06-13
Psalm 139:23 NLV
Verandering moet eers binne-in jou plaasvind, voor dit rondom jou kan plaasvind. In ‘n ou Peanuts strokiesprent, sê Lucy vir Charlie Brown dat sy graag die wêreld sal wil verander. Charlie vra haar: ‘Waar sal jy begin?’ Lucy antwoord op haar tipiese manier: ‘Ek sal by jou begin.’ Dink daaroor: Wanneer ons huweliksprobleme het, bid ons soms: ‘Here, help my eggenoot om te verander!’ Miskien sal dinge egter verbeter wanneer jy gewillig is om te bid: ‘Here, help my om te verander!’
Die Bybel sê: ‘…Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie… Inteendeel, jou antwoord moet ‘n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën’ (1 Petrus 3:8-9 NLV). Wanneer ons nie van iets hou nie, wil ons hê dat almal – behalwe ons – moet verander! Die waarheid is dat ons weerstandig teen verandering is.
Die skrywer Frances Hodgson Burnett stel dit as volg in haar boek, The Secret Garden: ‘Mense weier eers om te glo dat ‘n vreemde nuwe ding gedoen kan word, dan begin hulle hoop dat dit gedoen kan word, dan sien hulle dit kan gedoen word. Dan is dit gedoen en die hele wêreld wonder hoekom dit nie eeue gelede gedoen is nie.’
Om jou wêreld te verander, moet jy eers jouself verander. Die Psalmdigter het gebid: ‘Deursoek my, o God, en ken my hart; toets my onrustige gemoed. Kyk of daar enige gebrek by my is, en lei my op die ewige pad’ (Psalm 139:23-24 NLV). Soos jy ten goede begin verander, sal ander mense dit opmerk en dienooreenkomstig begin reageer. Maak die volgende dus vandag jou gebed: ‘Here, laat die verandering wat ek begeer in my begin!’
Sielskos: Hosea 1-5; Mark 14:27-42; Ps 139:1-6; Spr 13:21-23
2025-06-12
Filippense 3:8 NLV
Jy moet gewillig wees om die prys vir verandering te betaal. Die dramaturg en draaiboekskrywer Sidney Howard het opgemerk: ‘Die helfte van om te weet wat jy wil hê, is om te weet wat jy moet prysgee voordat jy dit kan kry.’ Verandering het altyd ‘n prys, nie noodwendig altyd in geld nie, maar ook in tyd, kreatiwiteit en energie. As dit nie iets kos nie, is die kanse goed dat dit nie ware verandering is nie!
Soos jy oorweeg om die verandering wat in jou lewe nodig is om te verbeter en te groei te maak, is dit belangrik om ook die koste van verandering met die koste van om dieselfde te bly, te vergelyk. Dit beteken dat jy jou huiswerk moet doen. Verandering bring groei mee. Dit kan egter ook hartseer meebring, veral wanneer jy sommige dinge moet laat gaan om sodoende ander te kan omhels. Wat gaan die veranderinge wat jy begeer werklik kos?
Paulus het geskryf: ‘Ja, om Christus Jesus, my Here, persoonlik te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees… Op hierdie manier kan ek Christus persoonlik ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef! Nie dat ek alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!’ (verse 8-12 NLV).
Die vraag is: Hoe graag wil jy verander – en is jy gewillig om die prys te betaal?
Sielskos: 2 Kon 24-25; Mark 14:12-26; Ps 73:17-28; Spr 13:20
2025-06-11
1 Timoteus 4:15 NLV
Jy moet besef dat sonder verandering, daar geen vooruitgang kan wees nie. Verandering moet egter nie sonder rede plaasvind nie. Dit kan ‘n kenmerk van rusteloosheid en ‘n simptoom van innerlike konflik wees. Verandering kan groot geleenthede sowel as potensiële verliese verteenwoordig. Alhoewel alle vordering verandering meebring, bring alle verandering nie vordering mee nie. Soos die leierskapkundige Max Depree opmerk: ‘Ons kan nie word wie ons veronderstel is om te wees, deur te bly waar ons is nie.’ As jy wil groei, moet jy gewillig wees om te verander.
Generaal Douglas MacArthur het gesê: ‘Die lewe is ‘n aktiewe proses van wording. As jy nie die afgelope jaar iets by jou belangstellings gevoeg het nie, as jy dieselfde ou gedagtes dink, dieselfde persoonlike ervarings deel, dieselfde voorspelbare reaksies het, het jou persoonlikheid in rigor mortis vasgevang geword.’ Rigor mortis is die fisiese rigiditeit wat na die dood intree. Dit kan in jou verhoudings, loopbaan en geestelik intree.
In 1 Timoteus 4 is Paulus besig om sy geestelike seun Timoteus te mentor om leierskap in die kerk oor te neem wanneer Paulus nie meer daar is nie. Paulus het vir Timoteus gesê dat hy nie die mantel van leierskap kan erf bloot omdat Paulus hom liefgehad het nie; hy sal daarvoor moet werk. Dit het beteken dat hy aan homself moet werk! ‘Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien.’
Ons almal kry geleenthede in die lewe, maar slegs diegene wat voorbereid is herken hulle en gryp hulle aan. Dit beteken dat jy bereid moet wees om te groei, aan te pas en te verander.
Sielskos: 2 Kon 21-23; Mark 14:1-11; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19
2025-06-10
Handelinge 6:2 DB
Die Nuwe Testamentiese kerk het so vinnig gegroei dat die apostels oorweldig geraak het met die uitdaging om dit te bestuur. Wat het hulle dus gedoen? “Toe die twaalf apostels daarvan te hore kom, het hulle ‘n gemeentevergadering belê. ‘Dit is nie reg dat ons ons opdrag om die Woord van God uit te dra afskeep om vir die armes kos te gee nie,’ het hulle vir die gelowiges gesê. ‘Ons het nou die volgende plan: kies sewe mans uit julle geledere om hierdie werk by ons oor te neem… Hulle moet ook verstandig wees en vol van die krag van die Heilige Gees. Dan kan ons voortgaan met ons taak om te bid en om die Woord van God bekend te maak'” (verse 2-4 DB). Wat was die resultaat? ‘Die woord van God het verder versprei, en die aantal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem…’ (vers 7 NLV).
Jy kan jou lewenskwaliteit verbeter deur te leer hoe om te delegeer. Hier is hoe jy dit doen:
(1) Begin met ‘n taak wat jy tans verrig wat aan iemand anders oorgedra kan word.
(2) Identifiseer ‘n persoon met die vermoë (nie net die gewilligheid nie) om dit te doen.
(3) Neem tyd om die stappe neer te skryf en dit saam met die persoon deur te gaan.
(4) Verduidelik waarom die taak noodsaaklik is en hoe dit in die groter prentjie inpas.
(5) As die taak tydsensitief is, stel duidelike sperdatums vas.
(6) Stel jou verwagtinge duidelik.
(7) Evalueer die persoon se vordering op ‘n deurlopende basis totdat jy seker is dat hulle die werk sonder jou betrokkenheid kan hanteer. Help hulle vir ‘n rukkie en volg gereeld by hulle op om seker te maak hulle doen die werk reg. Dis hoe jy leer om te delegeer.
Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Mark 13:24-37; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16