Verstaan die woord ‘toegereken’

2025-06-21
Romeine 4:24 AFR53

Stel ‘n oordrag van fondse van een rekening na ‘n ander voor. Banke doen dit elke dag. Stel jou nou voor dat jy bankrot is en nie in staat is om jou skuld te betaal nie. Dan, in ‘n verstommende daad van genade, betaal iemand jou skuld af en betaal soveel geld in jou rekening oor dat jy vir die res van jou lewe nooit weer hoef te werk of bekommerd te wees nie. Dis wat by die kruis gebeur het toe God al jou sondes, van die wieg af tot by die graf, aan Jesus toegereken het en al sy geregtigheid aan jou toegereken het.

Dis verstommend, nie waar nie? Sal jy sê: ‘Nee dankie, ek glo daarin om op my eie manier te betaal’? Sou jy sê: ‘Ek kan U nie toelaat om alles te doen terwyl ek niks doen nie, so ek sal vir die res van my lewe werk om te bewys dat ek U liefde en genade waardig is’? Die geregtigheid wat nodig is om in die hemel te kom, gaan nie daaroor om op die regte manier op te tree nie, maar om op die regte manier te glo.

Jy sê: ‘Maar ek voel so skuldig wanneer ek sondig.’ Jy is veronderstel om so te voel! Jou nuwe natuur reageer op sonde net soos jou liggaam op voedselvergiftiging reageer. Jou grense is oortree en jou wedergebore gees sê dat jy dit nie meer kan doen nie; dit is nie wie jy is nie!

Waarom het God die verlossingsplan so gereël? Want enige geregtigheid wat ons kan bereik, skiet ver aan sy standaarde tekort. Jou belonings in die hemel is op jou optrede gebaseer, maar om in die hemel te kom is alleenlik op vertroue in Christus gebaseer.

Sielskos: Jer 14-17; Mark 16:1-20; Ps 21; Spr 14:17-20

God gebruik beskadigde mense

2025-06-20
Lukas 22:32 NLV

Mense word te dikwels onderwaardeer of geïgnoreer as gevolg van wat hulle in die lewe deurgemaak het. Soms is dit as gevolg van wat hulle aan ander gedoen het, soms is dit as gevolg van wat ander aan hulle gedoen het. As jy al ooit by ‘n pandjieswinkel was, weet jy dat daar waardevolle items teen groot afslagpryse is; jy moet net weet waarna jy soek.

Jesus weet waarna Hy soek. Petrus se hartseer omdat hy Jesus verloën het, het hom so diep getref dat hy besluit het om na sy ou werk as visserman terug te keer. Kan jy jou die skinderstories by die hawe voorstel? ‘Dis die ou wat sy rug op Jesus gedraai het.’ As Petrus ‘n leraar was, sou ons sy bedanking geëis het. Tog was hy die eerste persoon wat Jesus na die opstanding opgesoek het. Toe Jesus vir Petrus sien, het Hy nie een keer van Petrus se misstap melding gemaak nie. Drie keer het Hy egter vir Petrus gevra: ‘Het jy My lief?’ Toe Petrus drie keer instemmend geantwoord het, het Jesus vir hom gesê: ‘Wees ‘n herder van my skape.’ Dit het na Petrus se toekoms as pastoor en hoof van die kerk verwys (sien Johannes 21:15-17).

Jesus het verby Petrus se verlede gekyk en sy toekoms gesien. Petrus se mislukking was nie ‘n verrassing nie. Jesus het vir hom gesê: ‘…As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun.’ Petrus se swakheid wat hy oorkom het en die herstellende genade wat hy ervaar het, het sy grootste onderriginstrumente om ander te help, geword. Ja, God sal jou teregwys, maar dit is om jou te herstel en jou vir sy doeleindes te gebruik.

Sielskos: Jer 10-13; Mark 15:33-47; Ps 17; Spr 14:13-16

‘n God-perspektief

2025-06-19
2 Korintiërs 4:16 NLV

Paulus het in ‘n skrywe aan die kerk in Korinte oor die koste om Jesus te dien, gereflekteer: ‘Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry; drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ‘n dag en ‘n nag op die oop see oorleef. Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van heidene; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges. Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees’ (2 Korintiërs 11:24-27 NLV).

Wat het hom in staat gestel om bo sy probleme uit te styg, eerder as om daardeur verpletter te word? ‘n God-perspektief! ‘Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (2 Korintiërs 4:16-18 NLV).

Paulus het dinge anders verwerk. Toe hy die laksman se gereedskap in die gesig gestaar het, het hy geskryf: ‘…Aan die een kant verlang ek om te vertrek en persoonlik by Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste’ (Filippense 1:23 NLV). Vra vandag vir God om vir jou sy perspektief op dinge te gee!

Sielskos: Jer 7-9; Mark 15:21-32; Ps 8; Spr 14:9-12

Moenie na Christene kyk nie, kyk na Christus

2025-06-18
Johannes 21:21 NLV

Een dag het Petrus na Johannes gekyk en vir Jesus gevra: “…’Wat van hom, Here?’ Jesus reageer daarop: ‘…wat het dit met jou te doen? Volg jy net vir My!'” (vers 21-22 NLV). Wanneer mense jou teleurstel, moet jy onthou dat jy ook al mense teleurgestel het. Wanneer mense vir jou slegte raad gee, moet jy onthou dat jy ook al vir mense slegte raad gegee het. Daar is net een persoon wat jou nooit sal teleurstel nie en jou altyd in die regte rigting sal lei. Jesus. ‘…Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee’ (Johannes 8:12 NLV). Jesus verlig elke tree wat jy gee.

Christus se eie dissipels sou jou teleurgestel het. Petrus was rasbevooroordeeld. Jakobus en Johannes wou vuur uit die hemel op diegene in ‘n dorpie wat vir Jesus en sy dissipels oornagverblyf geweier het, afroep. Tomas het die waarheid van die opstanding betwyfel en gesê: ‘…As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien… nie, sal ek nooit glo nie’ (Johannes 20:25 NLV).

Ja, mense sal jou teleurstel. Jesus sal egter nooit. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kan kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun’ (Hebreërs 12:1-2 NLV).

Die enigste mense wat jou in die steek kan laat, is die mense op wie jy steun. Die woord vir jou vandag is dus – steun minder op mense en meer op Jesus.

Sielskos: Jer 4-6; Mark 15:1-20; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8

Pastoor, hou jou swaard skerp

2025-06-17
Efesiërs 6:17 NLV

Paulus het sy geestelike seun en opvolger, Timoteus, gewaarsku: ‘Jy moet ook dít weet, Timoteus, dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom. Want mense sal net hulleself en hulle geld liefhê. Hulle sal grootpraterig en arrogant wees, met God spot, ongehoorsaam wees aan hulle ouers en ondankbaar. Hulle sal niks as heilig beskou nie. Hulle sal liefdeloos en onvergewensgesind wees; hulle sal ander mense belaster en geen selfbeheersing hê nie; hulle sal wreed wees en geen belangstelling hê in wat goed is nie. Hulle sal vriende verraai, roekeloos wees, hooghartig, en hulle sal plesier liewer hê as vir God. Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit wat aan die Christelike godsdiens sy innerlike krag gee, ignoreer. Jy moet wegbly van sulke mense af’ (2 Timoteus 3:1-5 NLV).

Soos jy hierdie lys lees, besef jy dat Paulus netsowel die samelewing waarin ons vandag leef, kon beskryf. Wat is dan die antwoord? Mans en vrouens van God wat weet hoe om die swaard van sy Woord vaardig te gebruik. As jy een van hulle is, kan jy vir seker weet dat Satan jou geteiken het. Hy wil die skerp kant van jou swaard afstomp, sodat jou boodskap oneffektief is. Dis ‘n ou truuk wat die Filistyne, Israel se aartsvyande, gebruik het om hulle in ballingskap te hou. Hulle het van al die smede in die land ontslae geraak (sien 1 Samuel 13:19). Gevolglik het die Israeliete geen manier gehad om hul swaarde te slyp, hulself te verdedig en die juk van onderdrukking af te gooi nie.

Pastoor, as geestelike smid, is dit jou roeping om hulle op te skerp. Leef dus op jou knieë en leef in God se Woord. Die uur is laat en die nood is groot. Pastoor, God vertrou op jou om jou swaard skerp te hou.

Sielskos: Jer 1-3; Mark 14:66-72; Ps 144:1-8; Spr 14:1-4

Wees bly – dag een-en-veertig is op pad!

2025-06-16
Lukas 4:2 NLV

Die getal veertig in die Skrif verwys na toetsing, beproewing en versoeking. God het vir Noag gesê: ‘Oor sewe dae sal Ek dit vir 40 dae en 40 nagte aanmekaar laat reën sodat alles wat Ek geskep het, uitgewis word’ (Genesis 7:4 NLV). Goliat het Israel se leër veertig dae lank uitgedaag: ’40 dae lank, elke oggend en aand, het die Filistyn uitgekom en sy uitdaging aan die Israeliete gerig’ (1 Sameul 17:16 NLV). Jesus is op die drumpel van sy bediening vir veertig dae lank deur Satan aangeval: ‘Jesus… is deur die Gees na die woestyn toe gelei, waar die duiwel hom vir 40 dae lank versoek het…’ (Lukas 4:1-2 NLV).

Dag een-en-veertig was egter op pad! Na veertig dae van reën, het God vir die mensdom ‘n nuwe begin gegee. Na veertig dae van Goliat se dreigemente, het God vir Dawid ‘n skouspelagtige oorwinning gegee. Na veertig dae van versoeking, ‘…het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword’ (Lukas 4:14 NLV).

Moenie aan vrees en wanhoop toegee nie. Moenie tou opgooi nie en moenie weghardloop nie. God het jou oorwinning bepaal. Jy het dalk ‘n paar houe en letsels gekry, maar God sal jou daardeur bring en jou sterker en wyser maak, as jy Hom vertrou en op sy Woord staan. Die Bybel sê: ‘…die Gees wat in julle woon, [is] magtiger as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). Die krag wat in jou aan die werk is, is magtiger as die omstandighede waarin jy jou bevind en die vyande wat jou teenstaan. Die woord vir jou vandag is dus – wees bly, want dag een-en-veertig is op pad!

Sielskos: Hosea 11-14; Mark 14:53-65; Ps 139:13-24; Spr 13:25